Jackalberry
Jakkalsbessie

© Shem Compion

Naam

Jakkalsbessie, Afrika Ebbehout /African ebony[Diospyros mespiliformis]

Latynse naam

Diospyros mespiliformus

Beskrywing

Die jakkalsbesssieboom kan geweldig hoog word – tot 80 vt., met ‘n stam-omtrek van 16 vt. Die gemiddelde boom word egter slegs 15 tot 20 vt. hoog. Die stamme groei regop en hoog, sodat die eerste verspreidende takke hoog bokant die grond is. Die stamme van ouer en swaarder bome het plat groewe in die stam wat dit versterk.
Die bas is donkerbruin in jong bome en word donkergrys soos die boom ouer word, met ‘n growwe tekstuur en vorm diep, horisontale groewe. Jakkalsbessies het ‘n digte, donkergroen, spreiende kroon. Die enkelvoudige blare is ovaalvormig en langwerpig, tot 8cm lank en 3 cm in deersnit en gaafrandig. Ouer blare het ‘n blinkerige, leeragtige voorkoms en is donkerder groen aan die bokant en ligter groen aan die onderkant.
Jong blare en takkies is bedek met donshaartjies. Solank bome jonk is verloor hulle nie hul blare nie, maar met ouderdom begin die boom blare verloor in die vroeë lente. Nuwe blare verskyn weer vanaf Junie tot Oktober en is pienkerig, oranje of rooierig. Die blare varieer in kleur vanaf ligte, rooierige bruin tot amper swart. Die jakkalsbessieboom is deel van die Ebenaceae familie, en staan ook bekend as die Afrika ebbehout/African ebony.

Blomme

Blomme van die jakkalsbessieboom is klein en onopvallend. Hulle is wit tot roomkleurig-wit, en buisklokvormig en die manlike en vroulike blommetjies word aan afsonderlike bome gedra. Beide word in blaaroksels gedra. Die manlikes word in kortgesteelde trossies gedra wat effens langer en dunner is as die vroulikes. Die vroulikes is steelloos en alleenstaande. Vrugte word slegs deur vroulike bome gedra.

Vrugte

Die vrugte van die jakkalsbessieboom is gewild onder baie diere. Die vlesige, geel tot geelgoen vrug is ovaalvormig, amper rond en byna 2cm in deursnee. Die gekartelde kelkblare bly aan die basis, met twee tot ses sade. Hoewel die skil taai is, het die eetbare vrug ‘n kalkagtige, melerige tekstuur met ‘n soeterige suurlemoengeur. Die vrugte kan vars geëet word, of gepreserveer word. Hulle word ook gedroog en gemaal vir meel.