Identifikasie van die Kaapse Kloulose Otter
Die Kaapse Kloulose Otter (Aonyx Capensis) kry hulle naam van die feit dat hulle voorpote aangepas is om te grawe en sodoende nie kloue het nie. Hulle agterpote is gedeeltelik geweb met drie kloue aan elke poot.
Hulle is die mees wyd verspreide otter spesies in Suid Afrika, en lewe in al die hoof rivier sisteme en in baie van die mindere waterlope. Varswater is ʼn noodsaaklike habitat vereiste volgens die “A conservation assessment of Aonyx capensis”, nie net om dit te drink nie, maar ook omdat die otter nie ʼn subkutane laag vet het nie en hulle hulle dik pels vir termoregulering moet afspoel.
Die Kaapse Kloulose Otter is taamlik groot, en kan tot 2 meter in lengte groei en tussen 10 kg en 21 kg weeg. Hulle pels is ʼn ligte tot donkerbruin kleur wat swart lyk as dit nat is, met wit lippe, kenne, nekke, ore en boonste borsgedeeltes asook lang grys-wit snorbaarde. Hulle sterte wat tot 50 cm lank kan wees, word gebruik om hulle te ondersteun as hulle op hulle agterpote sit en om hulle voort te dryf deur die water wanneer hulle swem. Hulle maak hulle rug krom wanneer hulle op land loop.
Volgens die “Interesting facts about Cape Clawless Otters (Aonys Capensis)”, deur Jared Harding, is otters gewoonlik alleenlopende diere wat binne ʼn area bly met groepe families van tot 5 individuele diere. Elke individuele otter het hul eie beperkte afstand wat hulle in rondbeweeg tot dit die voortplanting seisoen in Desember is.
Na 2 maande van swangerskap word een tot drie kleintjies gebore. Die kleintjies word deur die wyfie grootgemaak en hulle bly by haar totdat hulle seksueel ryp is op die ouderdom van een jaar. Die kleintjies word gespeen wanneer hulle rondom 60 dae oud is.
Doodmaak en Voeding Patroon
Die Kaapse Kloulose Otter is baie aktief soggens vroeg en net na sonsondergang, afhangende waar hulle voorkom. In die Drakensberg kan hulle gewoonlik gesien word waar hulle kos soek vanaf laat-middag, terwyl hulle in die Kaap en Gauteng in onbeskermde areas meer aktief is in die nag om kontak met mense met honde te vermy. Daar mag egter enige tyd van die dag op hulle gejag word.
Hulle lewe gewoonlik van klein prooi soos vis, krappe, paddas en insekte, maar kan ʼn oorlas word op hoender en vis plase waar hulle soms meer diere doodmaak as wat nodig is. Lammetjies word ook aangeval deur hierdie otters, deur hulle neuse af te byt en hulle dan doodgaan van versmoring. Die otters vreet ook die neus, ore en lippe van die lammetjies en partykeer ook die borskaste.
Bestuur
Die Predasiebestuur Handleiding raai boere aan om drade op ʼn hoogte van een meter te span sowel as elektrise heinings wat 45 sentimeters van die grond af is. Om die diere in die aand in kampe te sit, die gebruik van veewagters asook wag diere kan gebruik word om kwesbare diere veilig te hou.
Boere moet van permitte gebruik maak om otters in valhokke te vang. Die handleiding raai ook aan dat die boere tennisballe in die hokke sit om die otters besig te hou en om beserings te voorkom as hulle gevang is.
Translated by Wilma Koeppen