Daar is verskeie hoenderrasse in Suid Afrika beskikbaar, elkeen met sy eie unieke sterk en swak eienskappe. Om ’n spesifieke ras te kies moet die boer die tipe produksie, teikenmark en persoonlike voorkeur in gedagte hou.
Kommersiële rasse is gewoonlik die beter opsie vir intensiewe produksie sisteme terwyl tweedoelige of inheemse rasse geskik is vir ’n vry-loop stelsel of kleinskaalse boerdery.
Kommersiële hoenderrasse is hoogs gespesialiseerd en het ’n hoë eierproduksie of vleisproduksie, maar nie albei nie. Kommersiële lêhenne word tipies van telers verkry as hulle 18 weke oud is.
Die meeste kommersiële hoenderrasse is van ’n kruising tussen die Wit Leghorn en New Hampshire hoenders ontwikkel. Die Amberlink, Hy-line en Lohmann is die algemeenste in Suid Afrika. Afhangende van die produksie lyn, het elke voël vanaf 18 tot 70 weke oud die potensiaal om ses tot sewe eiers ’n week te lê.
Alhoewel lêhenne in sekere lande langer aangehou word of in ’n nuwe produksie siklus gemanipuleer word, verkoop Suid-Afrikaanse eier produsente die henne op 70 weke oud. Eerstens omdat dit te duur is om die henne langer aan te hou en tweedens omdat Suid Afrika ’n florerende informele mark het vir lewendige voëls. Produsente gebruik hierdie geld om nuwe lêhen aankope te subsidieer.
Kommersiële braaikuiken rasse kom van ’n kruising tussen Wit Plymouth Rock en Indian Game hoenders. Die Ross, Cobb, Hubbard, Arbor Acres en Hybro braaikuikens is die algemeenste in Suid Afrika.
Hierdie voëls word as dag-oud kuikens verkry. Daar is ’n groot genetiese vooruitgang in die teel van braaikuikens. Waar dit in die 1950s 84 dae gevat het om ’n 1.8 kg braaihoender van 3.25 kg voer te produseer, het die hedendaagse braaikuikens die vermoë om binne 33 tot 35 dae dieselfde gewig met minder as die helfte van die voer te bereik.
Nuwe aanteel strategieë fokus daarop om eier en vleis produksie te vermeerder asook om goed gebalanseerde en veerkragtige hoenders te teel.
Translated by Ananda Schoeman