Hoe om Vrugbare Grond te Bou

© Francois Viljoen

Die verlaging van grondkwaliteit in Suid-Afrika (SA) is ‘n ernstige bedreiging vir Suid-Afrikaanse landbou. Data van verskeie studies (soos bv. Land use and soil organic matter in South Africa) wys daarop dat SA grond lae vlakke van organiese materiaal het - omtrent 58% van grond bevat minder as 0.5% koolstof (Eng: carbon) en slegs 4% het meer as 2% organiese koolstof.
Bo-grond met minder as 2% organiese materiaal (OM) word as dooie grond beskou aangesien dit nie genoeg voedingstowwe (koolstof) het om mikrobes te voed nie. Grond met minder as 2% OM benodig bemesting.
Organiese materiaal sluit in organiese materiaal, grondmikrobes (giste, swamme, bakterieë ens) en humus. Dit is ‘n hoofbron van voedingstowwe, mikrobiologiese energie, dit hou water en voedingstowwe in beskikbare vorm, bevorder wortelontwikkeling, die vorming van grond aggregate (‘clusters’) en verhoog water infiltrasie.
Grondvrugbaarheid is nie net daarop gemik om genoeg voedingstowwe in die grond te hê vir die betrokke seisoen se oes nie, maar dus om aanhoudend organiese materiaal tot die grond toe te voeg. Dit word gedoen deur groen bemesting aan te plant, wisselbou toe te pas en om kompos te gebruik. Die grond moet gebalanseer word en kalk, rotsfosfaat en ander organiese middels kan daarvoor gebruik word. Bo alles is dit die mikrobes in die grond - alge, giste, swamme en erdwurms - wat die grondvrugbaarheid bepaal. Hierdie mikrobes is die sukses tot ‘n suksesvolle boerdery, sê Bob Cantisano, raadgewer van Organic Ag Advisors in Californië.
Belangrike stappe om grondkwaliteit te verbeter:
Gebruik organiese materiaal in die grond want dit stimuleer die groei van bakterieë.
Grond mikrobes (EM’s or ‘effective microorganisms’) kan aangekoop en by die grond gevoeg word.
Bewerk grond so min as moontlik. Te veel grondbewerking veroorsaak dat die grond se struktuur afgebreek word en dat die grond se vrugbaarheid verlaag word.
Verbeter grond se dekking – die grond moet met soveel plantmateriaal as moontlik bedek word. Dit sal verhoed dat grond wegspoel deur erosie, water onnodig verdamp en die groei van onkruid bekamp. Dit dra ook by tot die verhoogde biodiversiteit van die grond.
Lees meer oor ‘Groenbemesting en Grondkwaliteit’.
Verhoog plant bio-diversiteit. "Bio" = lewe en "diveristeit" = verskeidenheid. Die organiese produsent moet probeer om ’n groot verskeidenheid lewende organismes op die produksie eenheid of plaas te hê. Dit sluit plante, insekte en diere, swamme en bakterieë in. Hoe meer lewende organismes op die plaas, hoe groter beheer is daar oor die ekosisteem op die plaas.

By Marinda Louw