Hoe om ‘n Plaas te Organiseer

© USAID Africa Bureau

Die organisatoriese struktuur van ‘n plaas is ‘n belangrike aspek van die bestuur van ‘n plaas. Dit het nie net ‘n effek hê op die bestuur van die plaas se finansies nie, maar ook op die spoed en gemak waarteen besluite geneem word asook op die belasting wat ‘n boer moet betaal.

Wanneer daar besluit moet word op die beste organisatoriese struktuur vir die bestuur van ‘n plaas, moet jy die volgende dinge in gedagte hou: beskikbaarheid van fondse, tipe plaas, kapitaalbehoeftes van die plaas, aanspreeklikheid, winsdeling ondet eienaars, besluitnemingsbevoegdhede en belastingimplikasies.

Om die beste organisatoriese struktuur vir ‘n plaas te kies, raadpleeg regsgeleerdes, finansiële adviseurs, bankiers en belastingkundiges. ‘n Aantal organisatoriese strukture vir plase word hieronder bespreek.

Alleeneienaarskap

Die plaas word besit deur een persoon (gewoonlik die boer) wat die plaas bestuur. Die eienaar het ‘n persoonlike BTW nommer en is verantwoordelik vir al die besluite wat geneem word en al die verliese of eise teen die plaas, maar kry die voordeel indien die plaas ‘n wins maak.

Vennootskap in ‘n Boerdery

‘n Vennootskap bestaan uit twee tot 20 persone en het toegang tot meer kapitaal as ‘n alleeneienaarskap. Verliese, eise en winste word verdeel tussen die vennote en al die vennote is verantwoordelik vir die bestuur van die vennootskap. ‘n Vennootskap hou op om te bestaan as ‘n vennoot uitstap of sterf.

‘n Plaas as ‘n Maatskappy

Soos die plaas groei, kan dit voordelig raak om dit as ‘n maatskappy te bedryf in terme van bestuur en belasting. Lede van ‘n maatskappy (aandeelhouers) deel in die winste, wat verdeel word in die vorm van dividende. ‘n Maatskappy is ‘n meer formele organisasiestruktuur en geskik vir ‘n groot boerderybedryf. Dit het gewoonlik toegang tot meer kapitaal, word bestuur deur ‘n raad van direkteure en hou nie op om te bestaan in die geval van die dood van een van die direkteure nie.

Koöperasie

‘n Koöperasie word gewoonlik begin deur ‘n groep individue, ten minste sewe mense, wat dieselfde behoefte of doelwit het – byvoorbeeld, om ‘n verwerkingsaanleg te begin om sap te maak. Hierdie behoeftes kan wees om saad of voer goedkoper te kry deur meer bedingingsmag. Dit kan moontlik beter bereik word deur ‘n groep as deur ‘n individu. Die hoofdoel vn ‘n koöperasie as ‘n ekonomiese eenheid is om die lede te bevoordeel deur dienste te lewer, eerder as om winste te maksimaliseer. Bestuursbesluite word geneem deur die direkteure van die koöperasie.

‘n Plaas as ‘n Trust

‘n Trust word gewoonlik gevorm vir die doeleindes van belasting en vererwing (veral in die geval van kinders jonger as 18) en kan bestaan uit een tot 20 lede, wat almal trustees genoem word. Hierdie trustees is verantwoordelik vir die bestuur van die trust. Wanneer ‘n trustee sterf, hang die voortbestaan van die trust van die trustakte af.

‘n Beslote Korporasie

‘n Beslote korporasie is ‘n duur besigheidstruktuur met die voordele van ‘n maatskappy, maar meer informeel. Die lede, wat van een tot 10 mag wees, is nie verantwoordelik vir eise of verliese nie, behalwe waar hulle geteken het as borge. Winste word verdeel volgens ‘n geskrewe ooreenkoms en alle lede neem deel aan die bestuur en besluitneming van die beslote korporasie. ‘n Beslote korporasie hou nie op om te bestaan in die geval van die dood van ‘n lid nie.

Translated by Elna Van Rhyn