Hoe om ‘n Melkkoei te Kies

Hoe om Koeie te Ondersoek

©Ayrshire Cattle Breeders’ Society
Melkkoeie wat geïdentifiseer is om aangekoop te word moet ondersoek word om hul identiteit te bevestig. Geregistreede Holsteinkoeie word geïdentifiseer aan hul kleurpatrone en by Jerseys aan ‘n amptelike tatoeërmerk in die oor.
Koeie kan ook geïdentifiseer word aan spesifieke liggaamseienskappe soos hul tande (vir ouderdom), pote en bene, uier en spene asook liggaamskondisie. Die uier en spene van koeie moet met die hand ondersoek (gevoel) word om ‘n aanduiding te kry van droë kwarte, swelsels of knoppe wat ‘n aanduiding van mastitis is. Die vel van die uier moet soepel wees met ‘n syagtige gevoel. Dit moet nie te groot moet wees nie en moet stewig teen die liggaam vasgeheg wees met sterk aanhegtingsligamente. Om koeie van naby te ondersoek word ook ‘n goeie aanduiding gekry van hul temperament. Koeie moet mak en rustig wees.
Skoukampioenkoeie behoort nie eintlik vir aankope oorweeg te word nie. Die aankooppryse van sulke koeie is dikwels buitensporig en hul genetiese meriete en melkproduksiepeil kan onder verdenking wees. Die beste koeie om aan te koop is daardie koeie wat die meeste melk met die hoogste kwaliteit produseer onder soortgelyke toestande as wat gebruik gaan word op die nuwe plaas.

Om Koeie te Koop met ‘n Klein Begroting

©Chris Daly
Oorweeg om ouer koeie aan te koop aangesien hul verkoopspryse nader aan slagpryse sal wees. Slagpryse is gewoonlik laer as verkooppryse gebaseer op teelwaarde en melkproduksie. Slagprys is wat die verkoper sou kry as hy/sy die koei by 'n slagvee-veiling verkoop. Hier loop die koei oor die skaal voor dit opgeveil word en dan word daar gebie op vleisprys, bv. R20/kg. Kopers het gewoonlik 'n einddoel met sulke diere, soos die abbatoir of beginnerboere, veral as dit 'n mooi koei is en wat dalk nog in melk is. Wanneer koeie verkoop word op hul genetiese waarde, behoort verkoopspryse hoër te wees. Dit is ook 'n ander veiling as 'n slagvee-veiling, en word so geadverteer. Die rasgenootskap is dikwels ook betrokke wees veral as dit 'n geregistreerde kudde is.
Ongeag die ouderdom waarop koeie aangekoop word, moet hulle verkieslik ook dragtig wees terwyl hul daaglikse melkproduksie ten minste meer moet wees as hul voerkoste. Om ‘n aanhoudende melkproduksie dwarsdeur die jaar te verseker moet aangekoopte koeie in vroeg- en laatlaktasie wees. Laatlaktasiekoeie moet dragtig wees. Droë koeie moet dragtig wees met die verwagte kalfdatum nie meer as twee maande na die aankoopdatum nie. Met meer fondse kan koeie in eerste of tweede laktasie met hoë genetiese meriete aangekoop word. Koeie het gewoonlik minder kalwingsprobleme as verse.
Wanner dragtige verse aangekoop word moet inligting beskikbaar wees van die kalwingsgemak van die bulle waarvan die verse dragtig is. Dit sal verseker dat die bestuur gereed sal wees vir moontlike kalwingsprobleme (distokia). Distokia is wanneer kalwings moeilik is.

By Dr Carel Muller