Grondbewerking is die meganiese bewerking van grond in die wingerdrye en is gewoonlik geassosieer met die losmaak en omkeer van die bo-grond. Dit het ‘n skoon oppervlakte onder die die stokke verseker en onkruid kompetisie uitgeskakel. Daarna is snoeilote, kraalmis of kompos ingewerk.
Oor die jare is daar egter beweeg na minimum-bewerking. Grondbestuur moet deeglik beplan word om te verhoed dat die grondstruktuur vernietig word. Daar is verskeie redes vir grondbewerking van wingerd nadat dit geplant is. Die verwydering van onkruid en dus die uitskakeling van onkruidkompetisie: aktief-groeiende onkruide gebruik beskikbare water en voedingstowwe wat vir die wingerd bedoel was.
Die wortelstelsel van die meeste onkruide groei ongeveer 15 tot 40 cm diep, dieselfde diepte waar die meeste fynwortels van die wingerd voorkom. Om die grond los te maak waar ander bewerkingsaksies die grond vasgetrap het: gereëlde trekkerbeweging kan grond vastrap en sodoende wortelgroei beperk.
Die bewerking onder die wingerd maak die grond los sodat effektiewe lugbeweging daarin kan plaasvind. Die bewaring van grondwater: water verdamp nie so maklik vanaf ’n los oppervlakte nie en waterindringing verhoog tydens besproeiing en reën. Grondbewerking berei ‘n saadbed voor vir die saai van dekgewasse.
Om lug in die grond te kry: onkruide, dekgewasse, kompos en kunsmis word ingeploeg om as voeding beskikbaar te wees vir die plant. Dit word verder afgebreek deur grondmikrobes om humus te vorm. Verbeter lugbeweging in die wingerd: Lang of digte onkruide veroorsaak dat lugbeweging in die werkry tussen die wingerdstokke beperk word. Dit kan veroorsaak dat die wingerdblare langer nat bly en dus swamsiektes bevorder.
Translated by Marinda Louw