Goeie Higiëne in die Beheer van Pluimvee Siektes

© Chris Daly
Die kombinasie van goeie higiëne, sanitasie en ontsmetting is baie effektief om siekte draende organismes in pluimvee produksie sisteme te verwyder. Dit behels die roetine verwydering van stof, grond en organiese materiaal, insluitend mis, bloed en ander uitskeidings wat moontlike skadelike organismes kan bevat. Produsente moet maklike skoonmaak opsies en materiaal in gedagte hou as hulle ’n produksie sisteem beplan.

Skoon Kos en Water

Pluimvee moet altyd toegang tot skoon kos en water hê. Oop kosbakke moet ten minste een keer per dag skoongemaak word, omdat die voëls daarin kan trap of dit omgooi en die inhoud sodoende kan besmet. Hierdie water wat uitmors kan ook die pluimvee se skropgoed natmaak wat tot die uitbreek van siektes en ander probleme kan lei.

Nippel-drink stelsels is dikwels makliker om skoon te hou en beperk die mors van water. Party van die hedendaagse kos en waterbakke is selfskoonmakend. Die produsent moet egter steed hierdie stelsels monitor en probleme wat voorkom oplos.

Afvalwater moet op die regte manier ontslae geraak word van sodat dit nie siektes versprei nie.

Vloer Bestuur

©Chris Daly

Selfs vry-loop voëls het skuiling teen die elemente nodig en moet gereeld skoongemaak word om die opbou van skadelike bakterieë te voorkom. Pluimvee produsente met ’n beperkte spasie moet sementvloere oorweeg aangesien sement makliker as ’n grondvloer is om skoon te hou.

Alternatiewelik kan die voëls in mobiele hoenderhokke aangehou word as daar toegang is tot groentetuine en weiding. Met hierdie produksie sisteem word die voëls op een plek gehou, afhangende van die hoeveelheid voëls en weiding beskikbaar en word dan na ’n aantal weke na die volgende plek aangeskuif. Hierdie rondskuif van die mobiele hoenderhok voorkom die opbou van skadelike organismes.

Skropgoed

©Chris Daly

Verskeie beddegoed word gebruik om die voëls te isoleer teen die koue vloer, die kontak met mis te beperk, hulle droog te hou en die pote te beskerm. Hierdie skropgoed moet vinnig droog word om blase, poot infeksies en beskadigde karkasse te voorkom. Die skropgoed moet ook nagegaan word vir die opbou van ammoniak en siekte draende organismes.

In kommersiële produksie word die klimaatstoestande (temperatuur en humiditeit) en ventilasie beheer om die skropgoed droog te hou en die opbou van ammoniak, wat die groei van skadelike bakterieë aanhelp, te voorkom. Die skropgoed word elke dag omgedraai, amper geploeg, om die materiaal weer los vanmekaar te maak. Afhangende van die tipe skropgoed en of dit lêhenne of braaikuikens is word daar skoon skropgoed in die hoenderhuis gesit voordat daar nuwe pluimvee inkom.

Hoenderhuis

Elke hoenderhuis moet deeglik skoongemaak en ontsmet word voor en na ’n nuwe groep daarin aangehou word. Die Wêreld-organisasie vir Dieregesondheid (OIE) adviseer produsente in die ontsmetting van pluimvee produksie persele om siekte draende organismes soos vlieë, myte, bosluise, vlooie, kokkerotte en besies te vernietig. Hierdie insekte skuil en hiberneer in die geboue as dit koeler raak. Verskeie gifstowwe is beskikbaar vir die beheer van hierdie plae. Vir die veilige gebruik en beste resultate moet pluimvee produsente die gebruiksaanwysings volg.

Knaagdier beheer moet so gou moontlik gedoen word deur alle kos van die voerbakke te verwyder en so te verseker dat die knaagdiere na die muisvalle gelok word. Ou voeding moet ook verwyder word, want dit kan swamme dra wat siektes kan veroorsaak.

Pluimvee skropgoed bevat groot getalle bakterieë en sorg moet gedra word tydens die verwydering sodat die stof en vere nie siektes oordra nie. Skropgoed moet weggehou word van ’n ander hoenderhuis en so weggegooi word dat dit nie siektes versprei nie.

Produsente moet gesondheid en veiligheid maatreëls toepas vir beskerming teen stof, swamme en toksiese stowwe. Die dra van beskermde klerasie, lang handskoene, rubberstewels, wye rand hoede en maskers word aanbeveel. Om te help met die skoonmaak, moet alle beweegbare toerusting na ’n ander area geneem word vir ’n deeglike skoonmaakproses. Die krag moet ook afgeskakel word. Daar is drie stappe tydens die skoonmaakproses naamlik droë skoonmaak, nat-skoonmaak en ontsmetting.

Droë skoonmaak behels die verwydering van stof, grond en ander organiese materiaal vanuit die hoenderhuis met ’n besem, borsel, graaf, lap of selfs saamgeperste lug. Die waaiers, vloere, plafonne en trappe moet ook skoongemaak word. Hierdie droë skoonmaak moet nie gedoen word in ’n hoenderhuis wat met byvoorbeeld voëlgriep, Newcastlesiekte of ander lug oordraagbare siektes besmet is nie.

Die skoonmaakproses moet begin met die heel boonste oppervlaktes en afbeweeg om kontaminasie met die skoongemaakte areas te verminder. Herstelwerk moet ook tydens hierdie proses gedoen word en ou materiaal of materiaal wat nie ordentlik ontsmet kan word nie moet verwyder en met nuwes vervang word. Gedurende hierdie fase moet al die afval, vere en vuilgoed rondom ’n hoenderhuis verwyder word en ’n twee meter omtrek skoongemaak word van plantegroei.

Nat-skoonmaak behels die was en afspoel van alle areas met skoonmaakmiddels. Volgens die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies se aanbieding deur Yoni Segal, ‘Cleaning and Disinfection of a Poultry farm’, is gewone wasgoedpoeier ’n effektiewe en goedkoop opsie. Hoëdruk- wassers met warm water word ook gedurende hierdie fase gebruik om oppervlaktes skoon te maak asook plekke wat moeilik bereikbaar is soos ventilasie openinge en waaiers.

Ontsmetting behels die doodmaak van kieme met ’n ontsmetmiddel. Die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging beveel aan dat die ontsmetmiddels se gebruiksaanwysings slaafs nagekom moet word. Die ontsmetmiddel kan minder effektief wees as te min gebruik word, dit te kort op die oppervlaktes gelos word of as dit droog word tydens die proses. Die kwaliteit van die water en die temperatuur moet ook in ag geneem word tydens die aanwendings proses.

Na die ontsmetting moet alle toerusting teruggeskuif word en as ’n laaste voorsorgmaatreël teen skadelike organismes moet die hoenderhuis berook word.

Translated by Ananda Schoeman