Die Zhizo Mense van Mapungubwe, Limpopo

Zhizo - Kultuur by Schroda (900 n.C. tot 1000 n.C.)

©David Fleminger
900 n.C. word erken as die begin van die Laat Ystertydperk in suidelike Afrika. Daar is nog steeds aansienlike debat oor of daar ooit 'n Middel-Ystertyd was, maar ek sal dit vir die akademici los. Vir ons doeleindes kan ons net sê dat teen 900 n.C. het 'n nuwe groep hulleself in die Limpopo-Shashe vanggebied gevestig: die Zhizo-mense. Hulle het hulle oorsprong in wat tans Suidwes-Zimbabwe en Oos-Botswana is, maar 'n gedeelte van hierdie bevolking het daarna suid oor die Limpoporivier beweeg en 'n hoofstad op 'n plek genaamd Schroda gevestig.
Die redes vir hierdie trek is onduidelik. Sommige argeoloë sê die reënval in die streek het verbeter en dit het die boere toegelaat om terug te keer. Ander sê weer dat die streek eers omtrent 100 jaar later natter geword het. Thomas Huffman het egter voorgestel dat olifante en ivoor die Zhizo-mense oor die rivier gelok het.

Ivoorhandel

Vanaf 800 n.C. was daar klaarblyklik ivoorhandel tussen Zimbabwe en die Ooskus, dus was die waarde van hierdie kommoditeit reeds vasgestel. Daar was altyd (en is nogsteeds) 'n oorvloed olifante rondom die Limpoporivier en dit sou dus 'n betroubare bron van witgoud verseker. 'n Olifant-sentriese leefstyl sal ook verduidelik waarom die meeste Zhizo-nedersettings weg van die rivier geleë is - die dorstige olifante sou andersins hul gewasse vertrap het. Verder bevat Schroda die eerste bewys van ivoorwerk in die vanggebied, wat toon dat die Zhizo-mense ivoorvoorwerpe vir handel vervaardig. Eksotiese glaskrale is ook by die terrein gevind, en dit dui daarop dat die Zhizo verbindingsmet die Arabiese handelsstasies aan die Ooskus (geleë rondom die Bazaruto-argipel van Mosambiek) gehad het.
Daar is 'n aantal Zhizo nedersettings rondom die Shashe-Limpopo vanggebied, maar Schroda is die grootste. Dit word dus aanvaar as die tuiste van die rykste hoof en dus die hoofstad. Die grootte van hierdie ‘hoofstad’ is na raming tussen 300 en 500 mense, met nog 1400 mense wat in omliggende huise gewoon het.

’n Gesofistikeerde Samelewing

©David Fleminger
Die Zhizo-kultuur was klaarblyklik redelik gesofistikeerd. Hulle het beeste en vee gehou, en grane geoes en gestoor. Argeoloë het ook 'n aantal ongewone kleifigure ontdek wat diere, mense en fantastiese wesens (wat identifikasie ontwyk) uitbeeld. Daar word geglo dat hierdie figure deel was van 'n vroulike inleidingsskool, en gebruik was om lesse oor die lewe, liefde en plig te demonstreer. Dit is 'n tradisie wat wydverspreid was in Suider-Afrika.
Vandag is daar geen fisiese tekens van die Schroda-nedersetting nie, en besoekers mag nie sonder 'n gids en spesiale toestemming na die (ongemerkte) terrein gaan nie. Daar word gehoop dat die terrein vir die publiek geopen sal word sodra die brose omgewing gestabiliseer en beskerm is. Schroda is geleë binne die grense van die Mapungubwe Nasionale Park, net 'n kort afstand oos van Mapungubwe Hill.

Translated by Nina Joubert