Die Voeding van Heuningbye

© Magnus Manske

Heuningbye benodig voedsel vir oorlewing en voortplanting. Hulle het koolhidrate (suikers in nektar of heuning), aminosure (proteïene uit stuifmeel), lipiede (vetsure, sterole), vitamienes, minerale (soute) en water nodig.
Heuningbye benodig ‘n dieet ryk aan ‘n diversiteit van stuifmeelbronne wat hulle in staat stel om verskeie ensieme te vervaardig. Hierdie ensieme is nodig om hulle liggame te reinig van insekdoders en siektes, en om sterk en weerstandbiedende immuunsisteme te bou. ‘n Swak immuunsisteem kan lei tot wanvoeding en verhongering en is dikwels die hoofoorsaak van vrektes onder bye.
Sterker en welgevoede bye het ‘n beter kans om droogtes en die winter te oorleef en meer kleintjies groot te maak as bye wat nie aanvullende byvoeding ontvang het nie.

Wanneer om Bye te Voer

Dit is nodig om bye te voer as die bykolonie se voerreserwes min is of as daar nie meer veel natuurlike voedsel is nie. In Suid-Afrika kan slegs ongeveer 12% van die grond gebruik word vir byvoorbeeld die plant van vrugtebome, terwyl natuurlike weiveld vir bye soos fynbos in die Wes-Kaap ook beperk is. Natuurlike weivelde word verder verminder deur droogtes en veldbrande.
Heuning in die korf is ‘n voedingsbron vir bye gedurende die wintermaande en in tye van skaarste aan nektarryke blomplante. Gedurende ‘n droogte of wanneer nektar nie beskikbaar is nie, gebruik bye die heuning wat in die korf gestoor word om te oorleef. Dikwels is aanvullende voeding vir bye nodig nadat heuning deur die boer geoes is.
Dit is daarom noodsaaklik dat die boer dikwels die hoeveelheid heuning in die korf monitor sodat hy kan bepaal of aanvullende voeding nodig is en of die korwe na ‘n gebied met meer natuurike weiding verskuif moet word. Aanvullende voeding kan ook die kolonie en die koningin se gesondheid verbeter.

Wat om Heuningbye te Voer?

©Syrio
Bye het koolhidrate (suiker) en proteïene nodig. Koolhidrate is nodig vir die instandhouding van die bye se liggaamstemperatuur en ook die interne temperatuur van die korwe. Bye het ook stuifmeel nodig as ‘n bron van proteïene, vitamiene, minerale en sommige koolhidrate. Stuifmeel word gebruik om prinsesselei te vervaardig waarmee die koningin en die broeisel gevoer word.

Die Voer van Suiker aan Bye

Moenie heuning aan bye voer tensy dit heuning uit jou eie korwe is nie. Bysiektes soos American Foulbrood kan versprei word deur heuning en mag ‘n besmetting van jou korf veroorsaak. Die reuk van heuning mag ook rowerbye aanlok na die korf.
Voer liewer gewone wit suiker of stroop gemaak van wit suiker en water. Moet nooit rou suiker, bruin suiker of molasse gebruik nie omdat dit diarree by bye kan veroorsaak.
Sommige byeboere verkies ‘n ratio van een deel suiker tot een deel water (‘n 1:1 oplossing), terwyl ander ‘n dikker stroop van twee dele suiker tot een deel water (2:1) verkies. Warm water help om die suiker te laat oplos, maar die suikermengsel moet nie verhit of gekook word nie omdat dit die suiker laat karamelliseer.
Oor die algemeen sal ‘n 1:1 stroop die heuningvoorrade aanvul en kolonies stimuleer om ‘n nuwe broeisel te produseer. Die dikker stroop voorsien voedsel wanneer heuningreserwes in die korf laag is. Dit word aanbeveel dat ongeveer een liter stroop gegee word. Dit behoort genoeg te wees vir ‘n paar dae.
Plaas die stroop in ‘n vlak bak onder die korfdeksel en plaas grasstingels, takkies of klippe daarin sodat die bye die stroop kan bereik sonder om te verdrink.

Die Voer van Stuifmeel aan Bye

©JMK
Stuifmeel word die beste verskaf deur ‘n verskeidenheid stuifmeeldraende plante in die omgewing van die korf, maar tekorte kan ontstaan in die vroeë lente. Heuningbye verkies stuifmeel met ‘n proteïene inhoud van meer as 25%. Bronne van stuifmeel sluit in sonneblomme (14%), bloekom (20%), en Aloe davyana (28%). Kanola stuifmeel het soortgelyke hoë proteïene vlakke.

In tye van skaarste kan stuifmeel aangevul word met stuifmeelvervangers (koop by byeboerdery toerustingverkopers) of natuurlike stuifmeel. Stuifmeel kan ook byesiektes dra en versprei, so samel slegs stuifmeel in by ‘n sterk en siektevrye kolonie.

Dr. Eric Mussen van die University of California Davis in die VSA, beveel ook aan dat brouersgis, ‘n laekoste substansie soortgelyk aan stuifmeel ten opsigte van voedingswaarde, aan die bye gevoer word. Dit kan droog gegee word, maar bye benut dit beter as dit soos grondboontjiebotter aangemaak is. Kleiner byeboere (met slegs ‘n paar korwe) kan die brouersgis meng met 50% suikerstroop. Bedek met waspapier of plastieksakke om dit klam te hou.

Nico Langenhoven, byeboer van die Paarl, het gevind dat ‘n mengsel van stuifmeel met 5 tot 10% heuning (gevoer op die broeirame so na as moontlik aan die broeisel) die beste werk, maar dan moet die heuning die korf se eie wees en nie van ‘n vreemde korf nie aangesien dit siektes mag oordra.

Translated by Elna Van Rhyn