Besoek aan Robbeneiland

Die Veerboot Rit

©David Fleminger
Ek het die eerste keer in 1989 Robbeneiland as deel van ’n spesiale skooltoer besoek. Dit was nog steeds ’n funksionele tronk en ek onthou ’n donker onheilspellende plek waar die miasme van wanhoop dik in die lug gehang het. Nou is Robbeneiland in ’n toeriste-aantreklikheid verander en die gevangenes het letterlik die tronk oorgeneem. Gevolglik is die ou veerboot wat oor die woeste see na die klein hawe op die eiland gevaar het, vervang met nuwe hoë-spoed bote wat hordes toeriste in gemak heen en weer vervoer.
Die bootrit self is merkwaardig vir die asemrowende uitsig wat dit oor Tafelberg en die stad wat aan sy voete lê bied. Eens op die eiland klim almal van die boot af en op een van twee wagtende busse. Soos ’n goed geoliede masjien neem die busse jou op ’n effens frustrerende rit rondom die eiland. Die gids wys ’n paar bekende plekke uit, insluitend die kalksteengroef waar Mandela en sy kamerade die dae omgebring het. Dit was hier in ’n klein holte wat uit die blinkende wit rotswand uitgekap is dat die gevangenes hulle middagete geëet het. Ook waar daar gepraat is oor hoe dinge in ’n nuwe, demokratiese Suid Afrika georganiseer sou word. Sommige het sedertdien na die donker skuilplek as die “klaskamer” van Robbeneiland verwys.

Kyk na die Pikkewyne

©David Fleminger
Met ons terugkeer na die hoof tronk was ek bly om van die bus af en in die tronkselle te kom. Al die gidse wat hierdie deel van die toer aanbied is eks-gevangenes en hulle herinnerings van die lewe onder die ou regime is bittersoet. Terwyl ons in een van die gemeenskaplike tronkselle sit het ons gids ons ’n reguit en ietwat toornige beskrywing van die lewe volgens hom op Robbeneiland gegee.
Daarna is ons na die plek toe gelei waar Mandela sy klein tuintjie gemaak het en toe kom ons by die hoof aantrekkingskrag: die ry enkel selle waar Mandela en sy mede aangeklaagdes gehou is. Die flits van kameras en dan net tyd vir ’n finale afsluiting in die toilette voordat jy vrygelaat en teruggestuur word na die boot. As jy terugloop na die hawe kan jy ’n wandeling langs die geborgde promenade volg om die pikkewyne te sien of jy kan in die geskenkwinkel op die kaai rondloop.
Op die vasgestelde tyd gaan jy dan aan boord vir die terugrit Kaapstad toe en kyk met ironie na die volgende bus vol vrywillige gevangenes wat hulle toer op Robbeneiland begin. So, aan die een kant is Robbeneiland ’n gladde toeristeaantreklikheid met net soveel toeriste soos Disneyland tydens ’n somervakansie. Aan die ander kant is dit ’n belangrike uitstappie wat deur alle Suid-Afrikaners ondervind moet word sodat ons die traumatiese realiteite van ons geskiedenis kan verstaan.

Die V & A Waterfront

As toeris begin jou toer na Robbeneiland by die Victoria & Alfred Waterfront. Dit is ’n besige plek tot barstens toe vol met winkels, restaurante, teaters en mense. Die bedrywige kompleks strek oor ’n groot area en afhangende van jou voorkeure kan jy voor of na jou toer ’n paar ure in die winkels deurbring.
Oorspronklik was dit ’n industriële droogdok en Kaapstad se hawe. Die 19de-eeuse Waterfront-area het in onbruik geraak nadat groter hawens in die 20ste eeu gebou is. In 1988 is die vervalle pakhuise opgeknap om die splinternuwe Waterfront te skep wat ons vandag geniet. Benewens ’n groot winkelsentrum, genaamd Victoria Wharf, lê die kompleks versprei oor die Victoria Basin en bied dit ’n fantastiese uitsig oor die hawe. Plesiervaarte en helikopterritte is beskikbaar, maar dit sal jou nie na Robbeneiland toe neem nie.

Nelson Mandela Gateway

©Roger de la Harpe
Volg die aanwysings na die Nelson Mandela Gateway, waar jy die Robbeneiland-veerboot sal kry. Die Gateway en die pier is geleë aan die mond van die kompakte Alfred Basin waar jy verskeie luukse hotelle en privaat seiljagte sal vind. Die uitsig vanaf die Alfred Basin na Tafelberg is asemrowend. Die Gateway staan ook langs die kloktoring, ’n helderrooi landmerk. Die pad daarheen word duidelik aangedui.
Onthou dat jy ’n taamlike lang stappie na die Gateway sal hê as jy in een van die hoof parkeerplekke naby die winkelsentrum parkeer. Jy sal egter ook die genot hê om ’n delikate swaaibrug wat die smal kanaal tussen die Alfred Basin en die see skei oor te steek. Die beste plek om dus te parkeer is in die Clock Tower Centre, aan die ander kant van die Waterfront-kompleks. Hierdie parkade is ’n bietjie moeilik om te kry aangesien dit slegs toeganklik is vanaf die hoof sirkel naby die stad, maar dit sal jou reguit tot by die Gateway-gebou bring.
Die Clock Tower Centre het ’n goeie Toeriste-inligtingsentrum met verteenwoordigers van regoor die land en is op die boonste vlak. Dit is ’n uitstekende bron van inligting oor Kaapstad, die Wes-Kaap en die res van Suid Afrika. Die inligtingsentrum het ’n internetkafee en jy kan ook jou kaartjie vir die Robbeneiland toer hier bespreek.

Translated by Ananda Schoeman