Alhoewel, soos die naam aandui, die visarend hoofsaaklik vis eet, vang dit in sommige gebiede flaminke en ander watervoëls. Dit is ook bekend dat die visarend aas en dit steel dikwels ander voëls se prooi.
Die reusereiers is bekend daarvoor dat hulle ’n persentasie van hulle vangs aan visarende verloor. Die visarend se hoof dieet is vis, soms dood, maar meestal lewendig gevang. Baber en longvis word die meeste gevang. Groter prooi word op die grond langs die water geëet.
Die visarend het twee kenmerkende roepe. As dit vlieg of iewers sit klink dit baie soos die Amerikaanse witkoparend met ’n ‘kyeow-kou-kou’ roep. Wanneer dit naby die nes is, is die roep meer van ’n ’kwok’ klank, die wyfie se roep is ’n bietjie harder en skriller as die mannetjie.
So bekend en duidelik is die roep van hierdie voël dat dit dikwels bekend staan as ‘die stem van Afrika’. Die visarend word gewoonlik in pare binne en buite die broeiseisoen gesien en deel selfs mekaar se prooi. Hulle spandeer meer tyd sittende as wat hulle vlieg en die laaste vangs van die dag is gewoonlik om 10:00, alhoewel hulle enige tyd van die dag prooi sal vang.
Die visarend word meestal gesien waar dit hoog in ’n boom met ’n goeie uitsig oor ’n rivier, strand of kuslyn sit. By ’n meer met oorvloedige kos kan ’n broeipaar minder as 2.5 vierkante km water benodig om genoeg te eet, terwyl dit langs ’n kleiner rivier dalk 24 vierkante km of meer benodig.
Sommige visarende is geneig om rond te beweeg om die nat weer te vermy, terwyl ander die hele jaar in een gebied bly.