Winnie Mandela Verban en Geteister

Intimidasie deur die Polisie

©Eric Miller
Die jare 1960 en 1961 het vir Winnie vreugde gebring met die geboorte van haar tweede dogter, Zindziswa, en toe haar man, Nelson Mandela, onskuldig bevind is in die hoogverraadverhoor wat in 1956 begin het. Haar geluk was egter van korte duur. Nelson moes homself versteek, wat die dinamika van hul verhouding dramaties verander het. Sy moes nou haar swaar vermomde man in die geheim ontmoet en inpas by sy geheime aktiwiteite, of sy daarvan gehou het of nie. In Maart 1961 is Nelson egter ontdek en in polisie-aanhouding geplaas. Dié keer sou Nelson vir 27 jaar in die tronk bly.
Die polisie het gemeen dat Winnie haar man se werk teen die regering sou voortsit, en het in 1962 'n inperkingsbevel aan haar uitgereik. Volgens hierdie bevel was Winnie beperk tot Johannesburg, en verbied om opvoedkundige inrigtings binne te gaan of vergaderings van meer as twee mense by te woon. Die media was verbied om enigiets wat sy sê te publiseer. Die polisie het haar onophoudelik geteister om haar te probeer intimideer. Haar huis is gereeld omgekeer gedurende die polisie se aggressiewe klopjagte. Winnie het die klopjagte só beskryf:
“…daardie middernagtelike klop wanneer alles om jou stil is. Dit beteken daardie verblindende flitse het tergelyktydig deur elke venster van jou huis geskyn voordat jou deur oopgeskop is. Dit beteken die uitsluitlike reg wat die sekuriteitstak het om elke liewe brief in die huis te lees. Dit beteken daar word deur elke liewe boek in jou rakke geblaai, daar word matte opgelig, daar word onder beddends gekyk, slapende kinders word van matrasse opgelig om onder die lakens te kyk. Dit beteken jou suiker word geproe, jou mieliemeel en elke spesery in jou kombuisrak. Al jou klere word uitgepak en daar word deur elke sak gegaan. Uiteindelik beteken dit dat jy teen dagbreek gegryp word, weggedra word van klein kindertjies wat skree en aan jou rok vasklou terwyl hulle die wit man wat vir Mamma wegsleep vra om haar uit te los.”

Strawwe Inperkingsbevele

©Eric Miller
In Mei 1963 is Nelson Mandela onverwags na die tronk op Robbeneiland verplaas. Dit was baie moeilik vir Winnie. Sy moes 1400 km van Johannesburg na Kaapstad reis en dan 'n verdere 10 km per boot na die eiland aflê om hom te besoek. Daar aangekom, is sy toegelaat om hom vir slegs 30 minute deur 'n draadskerm te sien. Die tronkwagte het naby genoeg gestaan om alles te hoor wat hulle vir mekaar sê, en hulle is slegs toegelaat om Engels of Afrikaans te praat.
Winnie is 'n strenger inperkingsbevel toegedien in 1965. Dit het haar verbied om buite die grense van Orlando-Wes te gaan. Sy moes haar werk as maatskaplike werkster laat vaar, en het gesukkel om 'n nuwe werk te kry aangesien die polisie enigiemand wat haar wou huur, intimideer het. Die polisie het ook gedurig met haar dogters se skoolopleiding ingemeng en hulle is gedwing om van skool na skool te beweeg totdat Winnie hulle weggestuur het om in Swaziland skool te gaan.

Translated by Rentia Pretorius