Wat is Prinsesselei?

© Waugsberg

Prinsesselei is ‘n dik, wit stof wat gemaak word deur die mond- en keelkliere ( soms genoem die ‘brood food’ kliere) van werkerbye. Dis ‘n komplekse samestelling van verskillende bestanddele. Dit bevat water (50% - 60%), proteïene (18%), koolhidrate (15%), vette (3% - 6%), minerale soute (1.5%) – insluitend kalium, kalsium, natrium, yster en mangaan – sowel as vitamiene.

Prinsesselei staan ook bekend as ‘supervoedsel’ en daarmee word die koningin gevoer, asook die nuutuitgebroeide bylarwes (slegs vir twee of drie dae). Dis te danke aan hierdie ‘supervoedsel’ dat die lewensduur van die koningin tot 40 keer langer as die van werkerbye is.

Alle larwes word vir die eerste paar dae nadat hulle uitgebroei het met prinsesselei gevoer, maar daarna word werkerbye ‘bee bread’ gevoer, ‘n gegiste mengsel van prinsesselei, heuning en stuifmeel. ‘n Paar uitgesoekte larwes word aanhoudend met prinsesselei gevoer wat hulle in staat stel om te verander in koninginbye – die groot, langlewende, eierlêende lid van die bye se sosiale orde.

Daar is ‘n spesiale aktiewe samestelling, royalactin, in prinsesselei wat veroorsaak dat larwes in koninginne verander. Sommige studies trek dit in twyfel en beweer dat koninginbyeienskappe toegelaat word om te ontwikkel deur bloot nie die ‘koninginlarwes’ die normale dieet van ‘bee bread’ te voer nie.

Prinsesselei word nie gestoor nie en word direk aan die koningin en die larwes gevoer.

Produksie van Prinsesselei

Sedert die 1990’s neem die inkomste van Chinese byeboere van jaar tot jaar toe weens ‘n groot toename in die produksie van prinsesselei. Hierdie byeboere behaal goeie winste weens ‘n gemiddelde van 5 kg prinsesselei wat (per kolonie per jaar) geoes word, terwyl sommige byeboere swak winste het met ‘n gemiddelde oes van slegs 2 kg prinsesselei per kolonie per jaar.

Prinsesselei word geoes deur een tot drie dag-oud bylarwes met die hand uit die broeiselle te verwyder en dan die prinsesselei met ‘n pipet of klein spateltjie te verwyder. Prinsesselei moet 0 – 5 ure na verwydering uit die broeiselle verkoel word en in donker glashouers bewaar word. Die raklewe is ongeveer 18 maande vir verkoelde prinsesseleiprodukte en 24 maande vir gevriesde produkte. Vriesgedroogde prinsesselei kan vir jare lank bewaar word.

Volgens Mike Alsopp, hoofnavorser by die Heuningby Navorsingsafdeling van die Agricultural Research Council (ARC) in Stellenbosch, word prinsesselei nie kommersieel geproduseer in Suid-Afrika nie. ‘Dit is prakties onmoontlik om kommersiële hoeveelhede prinsesselei met Kaapse heuningbye (Apis mellifera capensis) te produseer weens die aard van die bye. ‘n Byeboer sal sit met eierlêende werkerkolonies en leë heuningkaste. Om prinsesselei te probeer produseer in areas waar daar met die Afrika-by (Apis mellifera scutella) geboer word, sal die ‘Capensis probleem’ vererger en lei tot die vernietiging van kolonies. (Die ‘Capensis probleem’ is wanneer die Kaapse bye die korwe en kolonies van die Afrika-bye oorneem, met die gevolglike sterftes van die Afrika-bykoningin en haar kolonie).

Gebruike van Prinsesselei

Afgesien daarvan dat prinsesselei die proteïenryke voedsel verskaf vir larwes wat potensiële koninginbye is, word dit ook geoes deur die mens vir gebruik in geneeskundige en skoonheidsprodukte. Vars, verkoelde of gevriesde en gevriesdroogde prinsesselei kan met voedsel gemeng word, in tablet- of vloeibare vorm as inspuiting gebruik word, of verwerk word as velprodukte vir brandwonde. Dis al vir renperde gevoer en gebruik om myte en insekte te kweek.

Prinsesselei wat na Suid-Afrika toe ingevoer word (vir gebruik in plaaslik-vervaardigde produkte) is bestraal. Dit kan in beginsel voordelige eienskappe vernietig.

Translated by Elna Van Rhyn