Vredefort Gedurende die Ystertydperk

© David Fleminger

Nuwe Tegnologie

Die ystertydperk is na suidelike Afrika gebring deur die Bantu, wat uit die noorde gekom het. Hierdie migrante het nuwe tegnologie met hulle saamgebring soos metaalwerk, landbou en veeteelt en dis bekend dat hulle gevestig het in noordelike Suid-Afrika teen ongeveer 500AD. Dit was die begin van die Vroeë Ystertydperk in die sub-kontinent.
Soos hulle verder suid versprei het, het die Bantu begin differensieer in verskeie groepe, elkeen met sy eie dialek en kultuur gebaseer op gedeelde ‘Ntu’ wortels. In die binneland sou hierdie mense die Sotho-Tswana stamme word wat die gebied vandag bewoon. Op die kus sou hulle die Swazi, Zulu en Xhosa nasies word.

Laat Ystertydperk

Teen 1300AD het die sosiale organisasie en tegnologiese prestasies van die Bantu so ver gevorder dat ons die volgende era as die laat ystertydperk identifiseer. Gedurende hierdie tyd was die vroeë Sotho-Tswanastamme geneig om te woon in groot klipmuur-omheinde nedersettings, met soms duisende mense. Hierdie patroon is die eerste keer geïdentifiseer op plekke soos Mapungubwe, nog een van Suid-Afrika se Wêreld Erfenisterreine. Teen die 1800’s het sommige van hierdie nedersettings in dorpsgebiede ontwikkel met bevolkings van meer as 15 000. Die belangrike dorp Kaditshwene is byvoorbeeld met verbasing en respek deur die eerste wit sendelinge in die area beskryf.
Omtrent 10 ystertydperk nedersettings, met hul karakteristieke droë klipommuring, is tot dusver in die Koepel-area identifiseer. Geeneen blyk besonder groot te gewees het nie, maar hulle is goed bewaar en verskeie argeloë het al gemotiveer vir bykomende beskerming en opgrawing van die oorblywende strukture.

Vredefort Nedersettings

Die uitleg van die Vredefort nedersettings is kopieë van die dominante Sentrale Beespatroon wat kenmerkend was deur die land gedurende daardie tyd. Dis ‘n organisasie van hutte rondom ‘n sentrale beeskraal wat ‘n sosiale hiërargie verteenwoordig het waarin beeste ‘n teken was van welvaart en aansien. Daarvolgens het die opperhoof aan die voorkant van die kraal gewoon en sy onderdane se hutte is in dalende orde van belangrikheid om die buitekante gerangskik.
Die beeskraal was die manne se domein en hulle sou in of naby die kraal ontmoet om dispute op te los of om dorpsbeleid te bespreek. In Sotho word hierdie area ‘kgotla’ (bymekaarkomplek) genoem. Tradisioneel is mans in die beeskraal begrawe.
Vroue se domein, aan die ander kant – net so tradisioneel - was die huis. Elke hut het gewoonlik ‘n voorste binneplaas gehad vir die groet van gaste en ‘n agterste binneplaas vir die voorbereiding van voedsel. Vroue is tradisioneel begrawe in hierdie kombuisarea aan die agterkant vn die hut.

Ystertydperk Nedersettings

Ander algemene strukture in die Vredefort ystertydperk nedersettings sluit in graankuile, vullishope, en verhewe graanskure. Fragmente van gebreekte pottebakkersware, opberghouers en meulstene word op die meeste terreine aangetref. Ongelukkig is argeologiese studies van Bantu ystertydperknedersettings nie as ‘n prioriteit beskou gedurende die apartheidsjare nie omdat enige geskiedenis rakende die swartes as onbelangrik of potensieel gevaarlik beskou is. Daarom is baie van die Vredefort nedersettings beswaarlik ondersoek deur die akademici van die dag. Hierdie ingesteldheid het egter aansienlik verander gedurende die laaste dekades, en navorsing op ystertydperk-nedersettings en kultuur is tans besig om ‘n bloeitydperk in Suid-Afrika te beleef.
Een van die mees onlangse uitgebreide opgrawings in die Vredefort areais gedoen op ‘n terrein genaamd Askoppies, so genoem na aanleiding van die honderde ashopies wat rondom die nedersetting gevind is. Die Askoppies-kompleks strek oor ‘n area van etlike vierkante kilometer, en bevat tussen 8 en 15 onderskeibare nedersettingseenhede. Elkeen van hierdie vrystaande ‘voorstede’ is duidelik afgemerk deur ‘n reeks aaneensluitende skulprandvormige klipmure wat die buitenste grens van die nedersetting aangedui het en ook die leef-eenhede binne-in verdeel het.
Die ‘droë’ mure is gebou deur versigtig groot klippe wat in die omgewing gevind is, opmekaar te stapel en messelklei of modder is oor die algemeen nie gebruik nie. Hou in gedagte dat hierdie mure nie deel was van die hut wat van klei of modder gemaak was nie, maar eerder soos ‘n tuinmuur was wat tussen die huise gebou is.

Die Mense van Askoppies

Datering van materiaal wat by Askoppies gevind is dui daarop dat die terrein bewoon is vanaf die 1680’s tot die vroeë 1800’s. ‘n Groot aantal graanhouers wat agter die huise sowel as in die sentrale kraalarea gevind is, dui daarop dat hulle verskeie graanprodukte met aansienlike sukses verbou het. Sorghum was waarskynlik die vernaamste graanproduk.
Hoewel beeste gehuldig is as ‘n tipe betaal/ruilmiddel, is hulle ook geëet deur die mense van Askoppies, tesame met ander diere soos skape, bokke en hoenders. Ten spyte daarvan het wild soos steenbok, zebra en blesbok 50% van hul dieet uitgemaak, so jag was steeds ‘n belangrike aktiwiteit. Kleiner diertjies soos hase, skilpad en tarentaal, asook vis uit die rivier is ook geëet.
In terme van industrie is Askoppies dieselfde as baie ander ystertydperkterreine in die land. Been-en steengereedskap, soos skrapers en naalde, is gevind, wat daarop dui dat die mense huide en pelse voorberei en verwerk het (van beeste sowel as luiperds en leeus). Voorwerpe van persoonlike verfraaiing soos ivoorarmbande, glaskrale en kauriskulpe is opgegrawe en hierdie hoogs begeerlike statussimbole dui daarop dat die mense van Askoppies ten minste aan die buitewyke betrokke was by die uitgebreide handelsnetwerk tussen die binneland en die ooskus. Koperoorringe is ook opgegrawe, tesame met oorblyfsels van ysterskoffels en – spiese, wat daarop dui dat die mense metaalwerk en ystersmeewerk beoefen het.
Askoppies is nou op private eiendom, maar is steeds toeganklik deur bemiddeling van private toeroperateurs wat toestemming van die boer verkry het om die terrein te besoek.

Translated by Elna Van Rhyn