Spanspek

© Louise Brodie
Wetenskaplike Naam: Cucumis melo
Algemene Naam: Spanspek, soet spanspek

Die spanspek plant kom oorspronklik van Suidwes Asië waar dit eens ’n “musk melon” genoem is as gevolg van die heerlike reuk wanneer dit ryp is. Die vrug is later in Europa bekendgestel en vernoem na ’n dorp in Italië, genaamd Cantalupo. Dit is hier aangeplant nadat sade vanaf Armenië in die Persiese Ryk ingevoer is.
Daar word beweer dat daar ’n interessante storie agter die oorsprong van die Afrikaanse benaming, spanspek, is. Dit kom blykbaar van die woord Spaans spek wat letterlik Spaanse spek beteken. Lady Juana Maria Smith, die Spaanse vrou van Sir Henry Smith (hy het verkies om Harry genoem te word), ’n goewerneur in die Kaapkolonie in die middel van die 1800’s, het spanspek vir haar ontbyt verkies terwyl haar man spek en eiers verkies het. As gevolg van haar Spaanse herkoms is hierdie ongewone keuse haar “Spaanse spek” ontbyt deur hulle personeel genoem.

Plantbeskrywing

Die spanspek is deel van die komkommerfamilie (Cucurbitaceae). Spanspek is ’n rankplant met ranke wat op die grond versprei is. Vir die kleiner variëteite kan die rankplant opgelei word. Die plant het ’n uitgebreide vlak wortelstelsel wat oor die area verspreid groei en deur die blare en ranke bedek word. Dit het ’n ondersteunende penwortel wat 30 - 40 cm diep groei. Aangesien die meeste van die wortels in die boonste 20 cm geleë is, is dit baie belangrik om onkruidbeheer toe te pas en die plant gereeld nat te maak.

Gebruike

Spanspek is ’n vrug wat vars geëet word. Dit kan ook versap word of saam met ander vrugte in ’n vrugteslaai of poeding gebruik word. Party variëteite word soms gedroog.

Grondvereistes en Voorbereiding

Om te verseker dat al die nodige makro- en mikrovoedingstowwe in die grond voorkom moet dit altyd voor voorbereiding ontleed word. Spanspek groei goed in sanderige leemgrond. ’n Hoë klei inhoud belemmer wortelontwikkeling en dreinering. Die grond se pH moet tussen 6 en 7 wees.
Om die pH en organiese materiaal soos kompos of mis aan te pas moet die nodige fosfate en kalk ongeveer agt weke voor planttyd toegedien en tot 60 cm diep ingeploeg word. Twee weke voor planttyd moet die bogrond in die saadbedding voorberei word. Dit word met ’n skotteleg gedoen om die klonte op te breek en enige onkruid te verwyder. Indien spanspek in ’n bedding wat opgeërd is geplant word moet dit ook twee weke voor planttyd voorberei word. As drupbesproeiing gebruik word, moet dit op hierdie stadium geïnstalleer word. As ’n plastiek deklaag gebruik word, word dit ook nou in die beddings uitgelê.

Klimaat

Spanspek verkies ’n warm klimaat en gedy in dagtemperature tussen 20°C en 30°C en as die nagtemperature nie onder 15°C is nie. As die temperatuur onder 10°C val word groei vertraag, die vrugte negatief geaffekteer en is daar ’n verlies aan produksie. Die plant is sensitief vir ryp en jong plante kan vrek. Reën gedurende die laaste deel van die groeiperiode bevorder swamgroei en beïnvloed ook die berging van die vrugte.

Kultivars

Kultivars is Honeydew, Galia, Hales Best, Piel de Sapo, Imperial, Edisto, Eastern Shipper, Majestic, Charentais, Fargo en Caribbean King. Dit is altyd raadsaam om jou plaaslike saadverskaffer of landbou-voorligtingsbeampte te raadpleeg oor die beste kultivars vir jou omgewing.

Translated by Ananda Schoeman