Roosmaryn

©Louise Brodie

Wetenskaplike naam: Rosmarinus officinalis
Algemene naam: Roosmaryn

Roosmaryn is afkomstig van Suid-Europa.

Plantbeskrywing

Die roosmarynplant is gehard en groei so twee meter hoog. Die plant is 'n immergroen struik met 'n skubberige grys bas. Die plant het verskeie sytakke waaruit talle skerp, lynvormige blare ontwikkel. Die blare is donkergroen bo met 'n ligter onderkant. Die blomme wat aan die punte van die takke vorm, is 'n delikate blou.

Gebruike

Roosmaryn word beide vars en gedroog in baie geregte as smaakmiddel gebruik. Dit word ook vir die vervaardiging van essensiële olie gebruik. Die blomme lewer olies van die hoogste gehalte, met 'n vars en meer delikate kanfergeur. Die res van die plant lewer ook olie, maar het 'n sterker kanfergeur.

Grondvereistes en Voorbereiding

Roosmaryn verkies 'n goed gedreineerde, sanderige leemgrond met 'n pH-vlak tussen 6 en 7.5. Moenie roosmaryn in grond met 'n hoë klei-inhoud plant nie. Wanneer dit in digter grond geplant word, moet die plantrye opgeërd word om te help met die dreinering van water weg van die wortels af.
Voor enige grondvoorbereiding gedoen word, moet 'n verteenwoordigende grondmonster geneem en na 'n laboratorium gestuur word vir analise en voedingstof aanbevelings. Die grond moet geploeg word om die grondprofiel tot ongeveer 600 mm los te maak. Kalk, om pH-vlakke reg te stel, bemesting en kompos moet vier tot vyf weke voor aanplanting in die boonste 400 mm van die grond ingeploeg word. Voeg spoorelemente en 'n gebalanseerde voorbereidende kunsmis in die dae voor aanplanting by die grond, en ploeg dit met 'n skotteleg in die boonste 20 cm van die grond in. Dit sal van enige onkruid ontslae raak. Dit is ook die tyd om rye op te erd, sodat die akkers voorbereid is vir beplanting.

Klimaat

Roosmaryn is 'n geharde immergroen plant wat in gematigde klimate groei en temperature tussen 18°C en 26°C verkies. Dit is ook rypbestand.

Kultivars

Daar is drie hooftipes roosmaryn wat kommersieël verbou word, Camphor-Borneol, Cineole en Verbenone.
Beskikbare variëteite is Albiflorus, Arp, Benendan Blue, Flora Rosa, Hill Hardy, Holly Hyde, Huntington Carpet, Irene, Majorca Pink, McConnell’s Blue en Tuscan Blue.
Daar is nog baie ander variëteite, en dit is altyd goeie praktyk om raad van die plaaslike voorligtingsbeampte en saadspesialiste te kry oor die beste variëteit vir die produksiearea en die teikenmark.

Translated by Rentia Pretorius