Robbeneiland se Militêre Jare

Vroeë Militêre Geskiedenis

©Roger de la Harpe
Die jare van 1936 tot 1960 was die trotsste in die eiland se lang en meestal tragiese geskiedenis. Dit was die militêre jare toe die weermag en vloot op die eiland gestasioneer was en die vasteland teen ’n verwagte inval deur die Duitsers beskerm het. In 1933 het Adolf Hitler in Duitsland aan bewind gekom en die wêreld in ’n wêreldwye stryd gedompel. Dit sou tot die verskriklike vermorsing van menslike lewens lei en staan bekend as die Tweede Wêreldoorlog. In Suid Afrika was daar verdeeldheid. Die Britte was duidelik aan die kant van Brittanje en die geallieerde magte. Die Afrikaners het in die algemeen die Duitse saak bevoordeel of ’n neutrale standpunt in die Europese konflik ingeneem.

Dit het ’n kloof tussen die koalisie-regering van J.B. Herzog se Nasionale Party en Jan Smuts se Suid-Afrikaanse Party veroorsaak. Gedurende hierdie tyd was die Minister van Verdediging ’n nasionalis genaamd Oswald Pirow. Hy het die spanning wat in die Noordelike Halfrond gebroei het gebruik as ’n goeie verskoning om Suid Afrika se militêre verdediging te verbeter. Of hierdie besluit in afwagting was van 'n Duitse aanval of in voorbereiding vir ’n burgeroorlog teen die Britte is moeilik om te bepaal.

Pirow het verklaar dat Robbeneiland se strategiese posisie by die ingang na Tafelbaai dit die ideale plek gemaak het vir ’n nuwe militêre basis. Hy het die hele eiland militêre eiendom verklaar. Daarna is kanonne vanaf Seinheuwel na Robbeneiland gevat, hoofsaaklik omdat die skudding wat deur die afvuur veroorsaak is die vensters by Groenpunt gebreek het. Bykomende planne is ook opgestel om die eiland se verdediging te versterk.

Robbeneiland Militêre Basis

©Roger de la Harpe
Oorlog het in 1939 amptelik uitgebreek. Met Japannese skepe wat op en af met die Indiese Oseaan gevaar het en die bedreiging van die Duitse U-bote in die Atlantiese Oseaan, het die veiligheid van Kaapstad noodsaaklik geword. Gevolglik is die Departement van Openbare Werke beveel om die eiland te versterk. Honderd en vyftig duisend ton boumateriaal is moeisaam oor die see verskeep en spanne arbeiders het paaie, ’n kaserne, landingstrook, wagtorings, kanonstellings en al die ander parafernalia van ’n oorlog. Die meeste van die ou geboue is ook gesloop en die rommel is gebruik om ’n nuwe hawe by Murray se baai te bou. Laastens is ’n ontsoutingsaanleg gebou om die eiland se tradisioneel swak watervoorsiening aan te vul.

Die twee kanonstellings wat opgerig is, het uiteindelik met ’n verskeidenheid 6-duim en 9.2-duim kaliber kanonne gepronk. Die Cornelia-battery het oor die Bloubergstrand-kanaal en die De Waal-battery oor die ingang van Tafelbaai gewaak. Tydens die oorlog is vier 3.7 duim en twee 40mm Bofors-kanonne saam met ’n skyn-kanonstelling, wat as dekmantel moes optree, ook by die arsenaal gevoeg. Saam met die kanonstellings by Simonstad en Llandudno is daar gehoop dat hierdie kusverdediging enige vyandige indringers sal afskrik. Kabels is ook op die seebodem gelê om indringende U-bote op te spoor.

Daar was nooit ’n aanval op Kaapstad nie en die kanonne is nooit in ’n geveg afgevuur nie. Dit is egter vir oefenlopies afgevuur en by een geleentheid het dit die omliggende bloekombome aan die brand gesteek. Die Duitse U-bote het egter verskeie vlote geallieerde skepe geteister terwyl hulle met die Weskus opgevaar het.

Baie Troepe se Tuiste

©David Fleminger
Gedurende die oorlogsjare en daarna het duisende militêre troepe hulle op Robbeneiland tuis gemaak. Kanonniers, ingenieurs, mediese ordonnanse, kapelane, infanterie en vlootpersoneel van beide die Britse en Suid-Afrikaanse magte het almal op Robbeneiland aangedoen, hetsy in aktiewe diens of as deel van hulle opleiding. Daarbenewens is bruin soldate van die hervormde Kaapse Korps en vroulike soldate van die Suid-Afrikaanse Vrouehulpleërdiens, Suid-Afrikaanse Vrouehulplugmag en die Suid-Afrikaanse Vrouevloothulpdiens ook gebruik om die land se oorlogspoging te versterk toe die aantal wit mans te min was.

Nadat die oorlog in 1945 geëindig het, is die meeste van die troepe van Robbeneiland onttrek. Die weermag het egter tot 1960 aan die strategiese belangrike buitepos vasgehou en die infrastruktuur wat hulle gebou het as ’n Vloot-opleidingsentrum gebruik. Die kasernes, uitkykpunte, kanonstellings en wagtorings het ongebruik gelê, maar ’n klein gemeenskap van semi-permanente inwoners het die ou “Irish Town” oorgeneem en die dorp hul eie gemaak. Verskeie mense het dus van hulle idilliese kinderjare op Robbeneiland geskryf. Veilig maar geïsoleerd, met die enigste opwinding die ongereelde militêre maneuvers en die afvuur van die kanonne tydens ’n oefenlopie.

Translated by Ananda Schoeman