Prei

© Louise Brodie
Algemene naam: Prei
Wetenskaplike naam: Allium Porrum

Plant Beskrywing

Die prei is deel van dieselfde familie as die ui, maar is baie meer sensitief en moeiliker om effektief te bemark. Preie kom oorspronklik van Sentraal Asië. Dit het later weswaarts na Europa versprei waar die populariteit as ’n groente toegeneem het en dit na die res van die wêreld versprei is. Preie het ’n voordeel bo uie aangesien dit nie eers voor gebruik ’n bol moet ontwikkel nie. Dit kan reeds vroeg in die groeiperiode geëet word.

Gebruike

Die geurige deel van die prei is die wit gedeelte van die stingel. Hierdie deel is net onder die grondoppervlak geleë waar die prei se blare bymekaarkom. Die blare word harder en oneetbaar soos dit ouer word. Die jong “baba” preie kan heeltemal geëet word aangesien die blare nog sag en geurig is. Die prei word gekook, gestoom of gebraai en op sy eie of saam met ander groente of proteïene geëet. Die jong preie kan ook rou in slaai geëet word. Preie is baie gesond en ’n goeie bron van kalsium, vitamien A, C, E en K.

Grondvereistes en Voorbereiding

Preie groei suksesvol in ’n medium-tekstuur leemgrond wat goed dreineer en ryk is aan organiese materiaal en voedingstowwe. Growwe sanderige grond is nie geskik nie aangesien die sandkorrels in die wit oorvleuelende blare onder die grond vasgevang kan word. Dit kan preie dus onsmaaklik en minder bemarkbaar maak. Donker gekleurde kleigrond is geneig om die wit prei stingels te vlek en moet vermy word.
Die eerste stap wanneer ’n gewas aangeplant word, is om ’n verteenwoordigende grondmonster van die area te neem en om dit te laat analiseer deur ’n betroubare laboratorium. Wanneer die resultate van die grondmonsters ontvang word, sal dit uitwys wat benodig word. Dit kan kalk vir die pH of ander voedingstowwe wat die gewas suksesvol sal laat groei wees.
Die pH van die grond moet tussen 6.5 en 7 wees. As die grond te suur of laer as 6 pH is, kan die vereiste hoeveelheid kalk in die grond ingeploeg word om die pH te verhoog. Dit moet ten minste agt weke voor planttyd gedoen word. Hierdie proses ploeg ook die vorige gewas se oorblyfsels en enige groen dekgewasse wat moontlik geplant is in.
Vier weke voor planttyd moet spoorelemente soos boor, sink en mangaan of enige bykomende organiese bemesting of kompos in die boonste 400 mm grond ingeploeg word. Volg met ’n skotteleg om die grond verder om te werk en ’n skoon, gelyk area voor te berei. In die laaste week voor planttyd moet die laaste kunsmis met ’n skotteleg in die boonste 20 cm van die grond ingeploeg word. Hierdie finale bewerking sal ook ontslae raak van enige onkruid wat moontlik begin groei het. Maak die area effens nat voor die saailinge geplant word.
Vir direkte saai moet die area ook in die laaste week met ’n skotteleg geploeg word om onkruid te verwyder. Berei die saadbeddings voor, maar sonder kunsmis en plant die saad in droë grond. Besproei dit liggies nadat die saad gesaai is.

Klimaat

Preie is ’n koel-klimaat gewas en groei goed in temperature van 12°C tot 25°C. Dit groei nie in temperature hoër as 25°C nie. In hoë temperature sal preie vinnig groei en verhard wat dit ongeskik maak vir gebruik. Preie is rypbestand, maar oormatige koue weer sal ook groei vertraag en die produksie en kwaliteit van die prei beïnvloed.

Kultivars

In die verlede is slegs ’n paar hoof variëteite kommersieel geproduseer. Meer onlangs is daar baie nuwe variëteite, insluitend nuwe kruisings wat vinniger en sterker groei en die tradisionele variëteite vervang. Daar is meer as 100 variëteite beskikbaar en die beste manier om op een te besluit wat vir die area se spesifieke groeitoestande geskik is, is om die raad van die plaaslike landbou-voorligtingsbeampte of saadhandelaar te vra.
Gewilde variëteite is American Flag, Armore, Atal F1, Bulgarian Giant, Carentan, Dawn Giant, Italian Giant en Musselburg.

Translated by Ananda Schoeman