Pluimvee Siektebeheer

©Chris Daly
Siektes is een van die grootste bedreigings vir pluimvee produksie en lei tot grootskaalse inkomste verlies op plase regoor die wêreld. Alhoewel medisyne beskikbaar is om baie van hierdie siektes te genees, is daar ook siektes waarvoor daar geen behandeling beskikbaar is nie.

Die meeste van hierdie siektes versprei met ’n geweldige tempo omdat voëls bymekaar aangehou word en voerbakke deel. Die beste manier om siektes in pluimvee produksie te beheer is dus om dit te voorkom. Daar is vier maniere waarop siektes voorkom kan word naamlik biosekuriteit maatreëls, inenting, goeie higiëne en stresbestuur.

Genesende Maatreëls

Pluimvee produsente moet vinnig optree om die verspreiding van siektes na die ander voëls en soms ook ander diere en selfs mense te verhoed. Die Nasionale Departement van Landbou raai boere aan om siek voëls in kwarantyn te hou en hulle laaste gedurende die produksie take te hanteer.

’n Dieregesondheid tegnoloog of veearts moet so gou moontlik gekontak word om die korrekte aksieplan voor te stel. Die dieregesondheid tegnoloog of veearts sal bloed of eier monsters neem om die oorsaak van die uitbraak vas te stel. Om toekomstige uitbrake te voorkom, moet die boer- en dieregesondheid tegnoloog of veearts deur die hele produksiestelsel gaan om moontlike probleme te identifiseer wat reggestel kan word.

Behandeling sal afhang van die oorsaak van die siekte, wat wissel van medisyne soos antibiotika tot die uitdunning van voëls. Terwyl sommige produsente moontlik antibiotika gebruik het om swak bestuurspraktyke in die verlede te verdoesel, het stygende kommer oor die ontwikkeling van antibiotiese weerstand tot meer verantwoordelike gebruik van hierdie produkte gelei.

In sommige lande kan pluimvee produsente nie meer antibiotika koop sonder ’n voorskrif van ’n veearts nie. Wanneer medikasie gebruik word, moet produsente die produkte volgens die instruksies stoor en toepas. Die gebruik van medikasie volgens die instruksies verseker nie net dat die behandeling sal werk nie, maar help ook om ’n weerstand te ontwikkel.

Boere moet ook die terughoudings periode van hierdie medisyne in gedagte hou - met ander woorde die tyd voordat eiers of vleis van behandelde voëls verkoop mag word nadat voëls medikasie ontvang het. Dit is om te verseker dat hulle produkte voldoen aan die Suid-Afrikaanse wetgewing.

Translated by Ananda Schoeman