Noord-Kaap Provinsiale Wapen

Die Noord-Kaap Provinsie se wapen is op 25 Augustus 1997 bekend gestel. Onder op die basis is die leuse, Sa ǁa ǃaĩsi 'uĩsi, in San geskryf. Dit beteken “Streef om ’n beter lewe”.

Die basis is veelkleurige skakerings van bruin. Dit het ’n driedimensionele effek wat die droë klipperige vlaktes van die Noord-Kaap verteenwoordig. Die skild rus op die basis en het ’n dominante diamant vorm bo-op. Die onderkant van die diamant en skild is ’n blou en wit golfpatroon wat die kuslyn van die Noord-Kaap, waar baie diamante gemyn is, uitbeeld. In die diamant vorm is daar ook ’n doringboom. Die boonste hoeke van die skild is rooi met ’n geel gousblom in elk.

Die diamant verteenwoordig die minerale en ekonomiese welvaart van die provinsie. Die geel gousblomme simboliseer die son en die ekologiese erfenis, spesifiek die jaarlikse veldblomme wat na die winterreëns blom.

Die skilddraers is ’n gemsbok aan die linkerkant en ’n koedoebul aan die regterkant.

Bo-op die skild is ’n kroon wat met San-kralewerk versier is.

Blom Embleem - Gousblom (Dimorphotheca sinuata)

©Shem Compion
’n Fees van plate oranje blomme helder die onvrugbare vaal grond op na die winterreëns en lok toeriste van regoor die hele wêreld na hierdie natuurlike jaarlikse skouspel in die Noord-Kaap.

Die gousblom (Namaqualand daisy) is ’n blom wat jaarliks, na die winterreëns in die Noord- en Wes-Kaap provinsies van Suid-Afrika, wild in die natuur groei. Die blomme is madeliefie-agtig en het groot kroonblare met oranje in die middel, alhoewel dit soms ook geel kan wees. Naby die endpunt van die kroonblare is daar ’n dowwe groen ring. Die gousblom kom in ’n verskeidenheid helder kleure soos oranje, geel en salm voor. Dit het vol son nodig om oop te gaan en volg die son van oos na wes. Die is handig om te onthou indien daar foto’s van die blomme geneem word. Blommekyk moet dus vroegoggend of gedurende onweersdae vermy word aangesien die blomme toe sal wees.

Dier Embleem – Gemsbok (Oryx gazelle)

©Nigel Dennis
Die gemsbok kan die warm woestyn temperature en gebrek aan water oorleef deur die gebruik van termoregulering in die brein om die benodigde water te verminder en die brein koel te hou. Die gemsbok het ’n aanpassing bekend as die karotis netwerk ontwikkel. Dit is ’n netwerk van bloedvate aan die basis van die brein. Warm bloed van die hart na die brein beweeg deur die karotis aar en gaan eers deur ’n reeks bloedvate in 'n sinus netwerk. Hier word dit deur die koeler veneuse bloed wat die brein verlaat afgekoel. Nog ’n manier van hitte regulering is om urine terug te hou en soveel vog moontlik uit die mis te absorbeer. Dit het dus baie droë en harde mis tot gevolg.

Gemsbokke is beide gras- en blaarvreters. ’n Gemsbok eet ’n verskeidenheid blare, gras, vrugte en kruie. Die grootste hoeveelheid water word uit voedsel verkry, maar as dit beskikbaar is sal ’n gemsbok gereeld water drink.

Gemsbokke wei dikwels in troppe met koeie en nie-territoriale bulle. ’n Dominante bul beskerm sy gebied om met die bronstige koeie wat in die troppe verbykom te paar. Die nie-territoriale bulle sal dan om ’n geveg te vermy ondergeskik wees aan die dominante bul. Gemsbokke is bekend daarvoor dat dit leeus kan wegjaag en selfs met die skerp horings kan doodsteek.

Translated by Ananda Schoeman