’n Staptog om Robbeneiland

Ware Natuurlewe op die Eiland

©Roger de la Harpe
Die beste manier om die ware natuurlewe van die eiland te ervaar is om daar rond te loop. Ek was gelukkig genoeg om die geleentheid te kry om dit vir myself te ervaar en ek kan eerlik sê dat my staptoer rondom die eiland een van die mees lonende staptogte van my lewe was. Hier volg ’n kort beskrywing van daardie staptog. Die volle roete om die eiland is ongeveer 12km en dit het my omtrent 4 ure geneem om dit teen ’n rustige tempo te loop. Die eiland is heeltemal plat en afgesien van die warm son is dit ’n maklike en vervullende stappie.

Die stil strate en huise, waarvan slegs die helfte bewoon is, bak in die son en die paar inwoners word slegs gesien as hulle heen en weer loop. Daar is baie min privaat motors op die eiland en gereelde vervoerdienste bring die personeel waar hulle moet gaan. Daar is tans sowat 150 mense wat op die eiland woon en hulle vorm ’n lewendige en ten volle funksionele gemeenskap. Daar is ook ’n plaaslike organisasie RIVA (Robben Island Village Association) wat die inwoners verteenwoordig en selfs ’n tweemaandelikse nuusbrief, “The Lighthouse”.

Kinders op die Eiland

©David Fleminger
Dit is nogal verbasend om te sien hoeveel kinders op die eiland bly. Allice, wat my gasvrou was, het twee jong kinders en sy sê dit is ’n goeie omgewing om kinders in groot te maak. Dit is veilig en beskut teen die stedelike verval van die moderne wêreld. Die eiland het goed toegeruste sportgeriewe, ’n kleuterskool en kantien (wat plaaslike inwoners steeds die menasie noem). Die skoolterrein is ’n luukse, vrolike plek en die plaaslike swembad (kompleet met lewensredder) is altyd besig.

Dit moet egter nogal eensaam wees en ook taamlik afgesonderd - soos met alle kleiner gemeenskappe. Snags wanneer die wind begin huil, verander die eiland en word dit spookagtig. Een van die plaaslike kinders het my selfs met stories van spoke wat in die donker strate rondloop probeer bangmaak. Ek het hom heelhartiglik geglo. As daar iewers op die aarde ’n plek is wat deur die spoke van die verlede besoek word, moet dit Robbeneiland wees. Daardie aand, toe ek alleen in die gastehuis in my bed lê, verbeel ek my dat ek die rustelose geskuifel van iemand buite my venster hoor...

Buite die Dorp

©David Fleminger
Buite die dorp is die eerste ding wat jou tref die pragtige uitsig. Daar, oorkant die kanaal, staan Tafelberg glansend in sy glorieryke majesteit. Dit lyk so naby, maar is tog so ver. Hierdie illusie van Kaapstad wat so naby is moes vir die gevangenes ’n marteling gewees het. Die suidelike deel van die eiland word deur die busrit gedek, maar jy kan die uitsig nie regtig waardeer as jy nie eers rustig raak en die berglandskap indrink nie. Ek het hierdie luukse ten volle benut deur die Alpha One-buitepos, die Fong Chung-skeepswrak, die verwoeste weermag-kaserne, die verlate Tweede Wêreldoorlog-uitkykpunt en Van Riebeeck se ou kalksteengroef (nou vol groen water wat gereeld deur watervoëls besoek word) besoek.

Soos jy verder gaan, verby die punt waar die bus van die kuslyn af wegdraai na die ligtoring toe, verlaat jy die “beskaafde” deel van die eiland en gaan jy die wildheid van die noordwestelike kus binne. Hier word die natuur toegelaat om oor te neem en die enigste teken van menslike inmenging is die smal grondpaadjie wat langs die kus loop. Die geluid van die see vul jou sintuie net soos die toenemende getalle seevoëls op die ruwe rotse. Wildsbokke wei stil in die lang gras langs die pad en jy het ’n algehele gevoel van alleenheid. Die staptog is egter nooit vervelig nie. Vanuit hierdie oogpunt kan jy reg langs die kus van die vasteland afkyk: van Kaapstad se Stadskom tot Seepunt, na Kampsbaai, al langs die Twaalf Apostels na Houtbaai en Chapman’s Peak – ’n uitsig wat jy op geen ander plek op aarde kan kry nie.

Landingstrook

©David Fleminger
’n Klein entjie verder is ’n klein boothuisie en die lánk verlate Baddens van Bethesda, die getypoele waar die melaatses in die “genesende” koue seewater gebad het. Die eiland se landingstrook lê nou weggesteek agter ’n laning bloekombome aan die regterkant aangesien die see sy konstante waak aan die linkerkant hou. Voor jou is net die oop see. Die stilte is oorverdowend. Naby die boonste deel van die eiland kom jy by die ou kalksteengroef, waar baie van die eiland se gevangenes onderworpe was aan rug brekende arbeid en geestelike mishandeling. Hopies gebreekte klip lê langs die steengroef, ’n welsprekende getuienis van die nuttelose arbeid van die vorige gevangenes.

Aan die noordoostelike kant van die eiland neem die pikkewyne oor. Daar is duisende van die klein bedelaartjies. Aangesien mense nie in hierdie deel van die eiland ’n algemene gesig is nie, is die pikkewyne in hulle element. Hulle dwaal al langs die waterkant, staan op aandag op die rotse en spat in die golwe. Daar is ook verskeie Tweede Wêreldoorlog-wagposte op hierdie deel van die eiland. Hulle waak stil oor die Blouberg-kanaal terwyl groot vragskepe hier verby na die Kaapse hawe vaar.

’n Ou militêre wagtoring is duidelik sigbaar bo die bome. Hierdie deel van die eiland was ook die plek van verskeie melaatse-kolonies, maar daar is geen bewyse van hierdie murasies nie. Van hier af is dit ’n kort wandeling terug na die hawe en die maksimum-sekuriteit gevangenis. Die eiland staproete neem net ’n paar ure, maar dit sluit meer as 500 jaar se geskiedenis en ’n ongerepte natuurlike omgewing wat die siel regtig voed in. Dit sal jou asem wegslaan.

Translated by Ananda Schoeman