Melaatsheid op Robbeneiland

Van Gevangenis na Hospitaal

©David Fleminger
Robbeneiland was die ideale plek om die kranksinnige, chronies arm en ongeneeslike siek mense heen te stuur wat die “gesonde” Suid-Afrikaanse burgers sou depressief maak. Om hierdie ongelukkige siele op die eiland te hou, ver van die oë en gewete van ander mense, was die ideale oplossing. Van 1846 tot 1931 was Robbeneiland dus ’n plek van isolasie vir alle sosiaal onaanvaarbare mense.

In die mid-1800’s het melaatsheid uitgebreek. Die melaatses was ’n besonder bejammerenswaardige groep. Eerstens was hulle die slagoffers van ’n verskriklike siekte waarvoor daar geen kuur was nie. Tweedens was hulle slagoffers van ’n onkundige en onvergewensgesinde samelewing wat hulle as onrein en gevaarlik beskou het. Selfs vandag ken die meeste mense melaatsheid as ’n hoogs aansteeklike siekte wat jou vingers laat afval en jou vel verrot. Die waarheid is egter veel minder vreesaanjaend.

Op Robbeneiland het die bewaarders van die Algemene Hospitaal die melaatses na die beste van hulle vermoë versorg. Hulle het vir die melaatses onnodig kragtige purgasiemiddels gegee en ook gedink dat seewater voordelig was vir diegene wat met die siekte saamleef. ’n Getypoel is aan een kant van die eiland gebou waar hulle kon bad. Die oorblyfsels van hierdie poel, die Baddens van Bethesda genoem, is vandag nog sigbaar en die stil swart water met die verkrummelende klipmuur is ’n roerende herinnering aan hierdie gemeenskap. Die melaatses van die Kaap is weggeskeur van enige familie en vriende en op die eiland in isolasie gehou.

Lewensomstandighede op Robbeneiland

©David Fleminger
Die lewensomstandighede op die eiland was vreeslik. Die watervoorraad was brak, die klimaat onvergewensgesind, die eensaamheid oorweldigend en siektes soos disenterie was algemeen. In die 1850’s het ’n paar skandale met betrekking tot die toestande op die eiland uitgekom en die owerhede is gedwing om die superintendent te ontslaan.

In die 1860’s het ’n nuwe superintendent probeer om die behandeling van die kranksinniges te verander deur kettings en lyfstraf met arbeidsterapie en menslikheid te vervang. Die fasiliteite was egter nog steeds onvoldoende en die status van die mense het nie regtig die koste van die bou van nuwe strukture regverdig nie. Die eerste groot opknappings aan die Algemene Hospitaal het eers in die 1890’s ’n aanvang geneem.

In 1931 het die Liga van Nasies Gesondheidsorganisasie (tans die Wêreldgesondheidsorganisasie) verklaar dat die verpligte isolasie van melaatses nie meer nodig was nie. Die behandeling moes vervang word met ’n meer toegeeflike beleid wat die aansteeklike en nie-aansteeklike gevalle van die siekte in ag neem. Die gestig vir melaatses op Robbeneiland is dieselfde jaar nog gesluit. Die oorblywende pasiënte is na die Westfort-hospitaal naby Pretoria gestuur.

Translated by Ananda Schoeman