Liggaamskondisietelling in Melkbokke

©Courtesy of American Dairy Goat Association
Liggaamskondisie is ‘n aanduiding van die liggaamsreserwes van ‘n dier. ‘n Dier se liggaamskondisie is ‘n aanduiding van die hoeveelheid vet en proteïen- (spier-) reserwes wat beskikbaar is vir instandhouding, dragtigheid en produksie. ‘Body Condition Scoring’ (BCS) of liggaamskondisietelling is ‘n belangrike instrument waarmee boere die produksie, voeding en welsyn van hul diere kan optimaliseer.

Liggaamskondisietelling (LKT) neem faktore in ag wat uniek is aan melkbokke soos stadium van laktasie, verlengde laktasie, vlak van produksie relatief tot voeding, ouderdom van eerste paring en liggaamsbou.

Die bok is ‘n selektiewe vreter en verteer nie ruvesel so goed soos beeste en skape nie. Daarom kan melkbokke nie hul liggaamskondisie so goed in stand hou slegs op weiding nie. Hulle het ekstra energie en proteïene nodig, verkieslik tesame met konsentrate en/of peulgewashooi.

In die Verenigde State van Amerika produseer die gemiddelde melkbok meer as 5% van haar gewig in melk per dag oor ‘n 305-dag laktasie (10 maande). Boonop kan sy een tot vyf lammers per jaar produseer. Hierdie vlak van produksie benodig ‘n optimale vlak van voeding.

‘n Bok se gewig verander tydens die voortplantings- en laktasiesiklus. Hoog-produserende diere sal liggaamsgewig verloor nadat hulle gelam het en tydens laktasie, dus moet hul voeding aangepas word om hiervoor op te maak. Gewigsverandering moet geminimaliseer word deur ‘n goedbeplande voedingsprogram. Teen pieklaktasie verbrand die ooi van haar vetreserwes en word maerder. Teen die einde van laktasie moet sy weer gewig aansit sodat sy genoeg vetreserwes het vir die volgende swangerskap en laktasie. Ooie moet verkieslik nie gewig verloor tussen swangerskappe nie.

Bestuurders van melkbokke verkies dikwels om sommige ooie op 12 maande te laat dek terwyl ander teruggehou word en eers op 18 of 24 maande gedek word. Hierdie keuses vereis verskillende voedingsprogramme en lewer baie verskillende liggaamskondisietellings.
Jaaroud melkbokke word op 7 tot 9 maande gedek en groei steeds aansienlik terwyl hulle dragtig is. Hulle het dikwels relatief lae LKT’s met dekking en dis amper onmoontlik om melkbokke te veel te voer. Ooie wat op 18 tot 24 maande gedek word sal dikwels hoër LKT’s hê en moet bestuur word om oorvoeding teen lamtyd te voorkom.

Ander faktore (afgesien van voeding) mag ook die liggaamskondisie van melkbokke beïnvloed. Dit sluit in parasiete, uitteersiekte, virale of bakteriële siektes en tand/kaak-probleme.

Liggaamskondisietelling van bokke is anders as dié van beeste. Bokke stoor die meeste van hul vet rondom die ingewande. Daarom sluit die liggaamskondisietellingsisteem vir bokke die meting van borsvet, sowel as die vetlaag op die lumbale area in.Translated by Elna Van Rhyn