Inentingsprogramme vir Bokke

©Susan Schoenian University of Maryland Extension
Bokke kan tydens verskeie stadiums van hul ontwikkeling ingeënt word vir beskerming teen siektes en besmettings. Lees die aanwysings en volg die aanbevelings van die vervaardigers van medisyne. Let veral op wanneer dragtige ooie ingeënt word.

Medisynes vir Bokke

©Susan Schoenian University of Maryland Extension
Medisynes en entstowwe en behandeling vir boksiektes moet slegs gebruik word volgens die aanwysings op die voubiljette. Indien die korrekte prosedure nie gevolg word nie, mag die medisyne nie werk nie.
Maak seker die medisyne is spesifiek vir die gebruik op bokke en nie, byvoorbeeld, vir hoenders nie.
Maak seker dat ‘n dier die korrekte dosis van ‘n medisyne ontvang. Die dosis mag bepaal word deur die grootte of gewig van ‘n bok.
Om effektief te wees, moet sekere medisyne meer as een keer toegedien word, terwyl ander slegs eenkeer toegedien hoef te word.
Verskillende medisynes moet ook op verskillende wyses toegedien word – dosering (mondeliks), ingespuit word onder die vel (onderhuids) of in die spier (intramuskulêr), aangesmeer word op ‘n klein opervlakte, oor die vel gegiet word of deur die dier daarin te dompel (dip). Maak seker medisyne word deur middel van die regte metode toegedien.
Gaan die vervaldatum van medisyne na. Indien medisyne reeds verval het, mag dit dalk nie meer effektief wees nie.
Berg medisyne in ‘n koel area buite die bereik van kinders of diere.
Gebruik ‘n weggooibare spuit en naald slegs een keer en plaas hulle daarna in ‘n leë koeldrankblikkie.
Vra jou diergesondheidstegnikus om die blikkie te neem en daarvan ontslae te raak sodra die blikkie vol is.
Moenie dieselfde naald vir verskillende diere gebruik nie.
Medisyne moet deur die bok se liggaam versprei sodat dit effektief kan wees. Daarom sal dit aanwesig wees in liggamsvloeistowwe, insluitend die melk. Lees instruksies om te bereken hoeveel dae daar gewag moet word alvorens ‘n dier vir vleis geslag mag word, of voordat die melk gebruik mag word.

Inentingsprogram vir Boklammers

Die volgende skedule dien slegs as ‘n gids. Bespreek met jou veearts ‘n spesifieke inentings (immuniserings) program vir jou bokke.
Lammers – binne die eerste lewensweek: ent teen hartwater (in samewerking met jou plaaslike veearts).
Lammers – vanaf 2 weke oud: ent teen Pasteurella. Ent tweekeer, 4 weke uitmekaar.
Lammers – net voor spening (2 tot 5 maande): ent teen bloednier, Pasteurella en black quarter.
Lammers – 6 maande oud: bloutong (3 inentings, 3 weke uitmekaar), bloednier, balck quarter, antraks.

Inentingsprogram vir Ooie en Ramme

April tot Mei: ent volwasse ooie en ramme teen Pasteurella
Lente (Augustus – September in Suid-Afrika): ent ooie en ramme teen bloutong. Dit moet nege weke voor paring vir die ooie, maar eers na paring vir die ramme gedoen word. Vir bloutong is die dosering drie inentings drie weke uitmekaar.
Augustus – September in Suid-Afrika: ent teen bloednier, balck quarter (vier weke voordat Angorabokke geskeer word) en antraks (vier weke voordat Angorabokke geskeer word).
Ooie – voord die teelseisoen: ent teen ensoötiese aborsie deur Chlamydia veroorsaak (4 tot 6 weke voor paring).
Ooie – voor die lamseisoen: ent teen blou uier (6 – 8 weke en 2 – 4 weke voor lamtyd)
Ent ook teen tetanus (6 – 8 weke en 2 – 4 weke voor lamtyd) en orf (4 weke voor lamtyd, indien nodig)
Let asseblief daarop dat inligting slegs vir inligtings-en opvoedkundige doeleindes is en dit mag nie as mediese advies aanvaar word nie. Die inligting is nie veronderstel om mediese advies of behandeling deur jou veearts te vervang nie.

Translated by Elna Van Rhyn