Hoe om ‘n Varkboerdery te Begin

©Glenneis Kriel
Om ‘n varkboerdery in Suid-Afrika aan te pak, vereis ‘n plan. Om die waarheid te sê, enige varkboerdery vereis ‘n plan, van die duisend-sog-eenheid tot by die twee-vark-trop in die agterplaas van ‘n arm eienaar wat sy gesin se inkomste wil verhoog. Of dit nou ‘n groot kommersiële varkplaas is of ‘n kleintjie, die basiese beplanningsreëls bly dieselfde. Daar moet begin word met die beplande einddoel: Wil jy speenvarke produseer en verkoop? Of wil jy speenvarke koop en grootmaak vir slag? Of varke koop en verkoop as ‘n spekulant? Of wil jy varke produseer, gootmaak tot by slaggrootte en dan verkoop?
Die tweede ding om in gedagte te hou met die begin van ‘n varkboerdery is die geskatte markvereistes – hoe buigbaar, seisoenaal en kompeterend is die mark alreeds?
Derdens moet die beperkinge, regulasies, gesondheids, en omgewingswetgewing, en dorpsbeplanning vir die omgewing waar jy beplan om jou boerdery te begin in aanmerking geneem word. Doen dan ‘n voorlopige beplanning van produksiekoste.
Jy moet die basiese koste van roumateriale, watter geboue (soos behuising) benodig gaan word, hoeveel meganisasie asook die aantal werkers benodig sowel as watter vaardigheidsvlakke hulle behoort te hê, bereken. Indien jou eindproduk bederfbaar is (varkvleis), moet jy ook bereken wat die raklewe en bergingskapasiteit, verkoeling, vervoer en verpakking is wat jy gaan benodig.

Befondsing vir Varkboerdery

Om ‘n varkboerdery op die been te bring benodig jy befondsing om die nuwe besigheid te dra deur die ontwikkelingsperiode. Die periode sluit in die oprig van omheining, die bou van hokke en behuising, die aankoop van toerusting en die uitsorteer van arbeid, verkryging van krag, en watertoevoer, erfbelasting, versekering en die alledaaglikse huishoudelike uitgawes. Bepaal hoe lank dit sal duur voodat daar ‘n inkomste sal wees wat die kontantvloei positief sal begin maak.
‘n Realistiese kontantvloei-skatting is noodsaaklik, maar dikwels die slegste deel van ‘n besighedsplan. ‘n Mens is besig om te probeer voorspel wat die produksiekoste, rente op lenings, lopende kostes en berging gaan wees en dit te balanseer teen die inkomstes uit verkope oor ‘n toekomstige periode terwyl waardes en uitgawes onvoorspelbaar en veranderlik is.
As ‘n beginner-entrepreneur egter een van die moontlike bronne van befondsing wil nader en ernstig opgeneem wil word, moet hy of sy maar die moeite doen om die hulp van iemand wat finansies, en veral varkboerdery, verstaan, in te roep. Saam kan hulle ‘n besigheidsplan ontwikkel wat hulle deur die eerste fase van ‘n lewensvatbare onderneming sal neem. Daar bestaan verskeie organisasies wat in ‘n posisie is om te help en spesifiek fokus op die ondersteuning van die kleinskaalse boer.
Die Suid-Afikaanse regering is die leier op hierdie gebied en ‘n aantal Ministers van Landbou is op rekord as sterk ondersteuners van bestaansboerderye en boere in die informele sektor. In die jaarlikse begroting word ‘n aansienlike bedrag beskikbaar gestel en deur die Provinsiale Departemente van Landbou word hierdie bedrag toegeken en bestee deur plaaslike provinsiale keurkomitees waarop die toepaslike boerderyspesialiteite verteenwoordiging het. Ander bene van die regering soos die Departement van Landelike Ontwikkeling en Restitusie speel ook ‘n rol.
Daar is egter nooit genoeg fondse beskikbaar om alle aansoekers te help nie, dus kom ander organisasies soos die Landbank, provinsiale hulpfondse en munisipaliteite ook in die prentjie. Oor die algemeen behoort die beginner of kleinskaalse varkvleisprodusent die Provinsiale Departement in die eerste plek te nader om by die afdeling uit te kom wat met landbou ondersteuning en ontwikkeling werk.

Opleiding en Advies vir Nuwe Varkboere

©Dr Jim Robinson
Die mees prominente en aktiewe organisasie is The South African Pork Producers Organisation (SAPPO), waaraan die meeste kommersiële produsente behoort. SAPPO brei nou hul lidmaatskap uit na die aspirant kleintrop afdeling van varkboere. SAPPO het toegang tot heffingsfondse wat bygedra word deur kommersiële boere en ingesamel word wannneer varke geslag word op ‘n per-kop basis. Hierdie fondse word, in samewerking met die regering, aangewend vir die bevordering van die varkvleisbedryf en ‘n persentasie word toegewys aan ontwikkelende boere vir aktiwiteite wat verband hou met opheffing en opleiding. Dis egter nie kontant vir die befondsing van nuwe besighede of voerkostes nie.
Die Pig Veterinary Society (PVS) is ‘n groep van die South Afrian Veterinary Association wat in noue samewerking met SAPPO en kommersiële produsente, opleiding en adviserende kursusse, praktiese demonstrasies en beplanningsessies aanbied. Hierdie opleidingskursusse fokus op biosekuriteit, welsyn, voeding en behuising van varke, voorkoming van siektes en bestuur.

Translated by Elna Van Rhyn