Hoe om Misbredie te Eet

© Tubifex

Misbredie Sade

Misbredie sade was duisende jare gelede ’n stapelvoedsel in Meksiko, Guatemala en Peru en moontlik net so gewild soos mielies. Die sade is met heuning gemeng om koeke te vorm en is in godsdienstige seremonies gebruik waarna dit geët is. Die blare is ook eetbaar en baie voedsaam. Misbredie-saad kan ook uitloop. Spoel een eetlepel saad met water af en bêre dit in ’n bottel met ’n geperforeerde deksel. Spoel dit elke agt ure af. Gebruik die uitgeloopte saad op toebroodjies of in slaaie.
Die proteïenryke misbredie sade word in die mikrogolf of op die stoof voorberei. Gooi een koppie sade en drie koppies soutwater, appelsap of hoenderaftreksel in ’n pot. Sodra dit kook verlaag die hitte en laat dit 20 minute prut totdat die vloeistof geabsorbeer is. As dit te lank kook kan dit taai word. Misbredie kan ook gebruik word om sop dik te maak.
Die sade kan gerooster word of by ander disse soos rys gevoeg word om dit ’n neutagtige soet smaak te gee. Dit kan ook sonder olie soos springmielies geskiet word. Misbredie is anders as ander heelgraan produkte. Dit bly effens krakerig maar word sag binne.

Misbredie Voedingswaarde

©Adrian Ceron
Volgens die Internasionale Graanraad is die misbredie die enigste graan wat vitamien C bevat. Dit bevat ook 14% proteïene en is ryk aan aminosure insluitend lisien.
Misbredie-meel is glutenvry en kan nie as ’n vervanging vir gewone meel in brood gebruik word nie. Vervang egter 30% meel met misbredie-meel om die gluten in brood te verminder. Misbredie-meel kan vir pannekoek, koekies of pasta gebruik word.

Misbredie-blare

Misbredie-blare word met die hand geoes en dieselfde dag nog vars geëet. Dit kan ook soos spinasie saam met ’n aartappel, tamatie en ui gekook word. Die vars blare kan by slaai gevoeg word of gebraai en by ander groentes soos winterblomkool of uie gevoeg word.
Misbredie-tee word met 1 koppie kookwater en ’n driekwart koppie vars blare gemaak. Dit word gebruik om bloedarmoede, diarree, hoes en swaar menstruele bloeding te verlig. Gebruik die afgekoelde tee om wonde skoon te maak of jeuk te verlig.
Misbredie bevat mikrovoedingstowwe insluitend karoteen, vitamien A, yster, magnesium, fosfor, kalium en kalsium. Rooiblaar misbredie is ook ryk aan antosianien pigmente wat hoog is aan antioksidante.

Translated by Ananda Schoeman