Heuningbye en Stuifmeel
Wat is Stuifmeel?
Stuifmeel is 'n stof wat geproduseer word deur die stuifmeeldrade van saad-draende plante. Dit bestaan uit fyn stuifmeelkorreltjies wat manlike gamete bevat ('n plant se spermselle). Hierdie manlike gamete in die stuifmeel vermeng met die ander selle in 'n proses genaamd bevrugting.
Breedweg gesien is daar twee soorte stuifmeel:
Entomophilous stuifmeel – deur insekte versamel tydens insekbestuiweing.
Anemophilous stuifmeel – deur die wind versprei eerder as deur insekte en met allergieë geassosieer.
Stuifmeel is 'n belangrike voedingsbron vir bye en verskaf proteïene in die diëte van volwasse bye terwyl dit noodsaaklik is vir die aansit van gewig by nuut-uitgebroeide bylarwes.
Bronne van Stuifmeel
In Suid-Afrika voorsien gombome, inheemse bome en struike, landerye van boere, onkruid en tuinblomme die stuifmeel (proteïene) en nektar (koolhidrate) waarvan heuningbye voedsel vervaardig. Hierdie plante stel nektar en stuifmeel op verskillende tye vry.
Die vlak van proteïene wissel tussen verskillende stuifmeelbronne. Hoë-kwaliteit stuifmeel word geproduseer deur die klawerspesies, amandel- en peerbome, populusspesies, lupiene en kanola. Laer kwaliteit stuifmeel is afkomstig van bloubessies, sonneblomme, sitrus- en Typhiaspesies.
Studies wat in 2017 in Saoedi-Arabië gedoen is het die stuifmeelproteïene - inhoud bepaal van lusern (20.2%), dadelpalm (19.8%), kanola (18.9%), somerskorsies (16.4%) en sonneblomme (15.2%).
In Suid-Afrika, mag stuifmeelbronne insluit: pers echium (meer as 30% proteïene), makadamia (16-22%) mielies (14-15%) en dennebome (7–8%). Die Proteïene-inhoud vir bloekomspesies wissel van 17% tot 30%.
Van die gombome in Suid-Afrika is die ‘red flowering gum’ (Corymbia ficifolia), ‘grey ironbark’ (Eucalyptus paniculata), ‘yellow box’ (Eucalyptus meliiodora) en ‘black ironbark’ veral voordelig vir bye.
Insameling van Stuifmeel
Stuifmeel word ingesamel deur die werkerbye en na die korf toe gedra in stuifmeelmandjies (corbicula) op hul agterbene. Stuifmeel sit ook vas aan die wollerige lyf van die by. Soos hulle vlieg, wek die beweging van die vlerke statiese elektrisiteit op met 'n negatiewe lading. Wanneer die by dan land op 'n blom, val die stuifmeel af van die stufmeeldrade en sit vas aan die statiese hare wat die by se liggaam bedek.
Die by se tong en kake word ook gebruik om die stuifmeelkorrels te lek sodat hulle aan mekaar vaskleef. Dan word dit bymekaar geskraap deur die agterbene, in balletjies gekompakteer en in die corbicula ingedruk.
Terug by die korf word die stuifmeel in 'n sel afgelaai saam met ander bestanddele.
Stuifmeel as 'n Voedselbron
As stuifmeel na die korf geneem en in leë selle gepak word, word dit gemeng met nektar en spysverteringsvloeistowwe voordat dit in ‘n sel verseël word met 'n druppel heuning. Die spysverteringsvloeistowwe bevat melksuurbakterieë wat die suikers gedeeltelik verteer, die proteïene afbreek in maklik verteerbare aminosure, en die groei van muf verhoed.
Die mengsel, bekend as ‘byebrood’, word aan die heuningbylarwes en pas-uitgebroeide werkerbye gevoer. Die jong werkerbye het die proteïenryke byebrood nodig om die kliere te ontwikkel wat hulle as volwasse bye gaan nodig hê om die larwes en die koninginby mee te voer. Volwasse bye eet heuning.
Byestuifmeel is kommersieel beskikbaar vir menslike gebruik en byeboere samel dit van die werkerbye deur middel van 'n ‘pollen trap’. Die gebruik van stuifmeel is omstrede en die United State's Food and Drug Administration (FDA) is baie skepties oor aansprake van ‘die natuur se beste bron van proteïene’, ‘kiemdoder’, en ‘allergieverligter’. Argumente teen byestuifmeel vir menslike gebruik sluit in dat dit beskikbare proteïene vir bye verminder en dat daar goedkoper maniere is waarmee die menslike dieet aangevul kan word.
Translated by Elna Van Rhyn