Druiwe Swamsiektes

© Oliver MacDonald

‘n Swam is ’n plantagtige organisme wat mikroskopies klein is. Dit bestaan uit ’n swamspoor en na ontkieming ook uit vertakte swamdrade. Dit ontkiem normaalweg vinnig onder warm vogtige toestande en vorm swamspore wat deur die wind en water versprei word.

’n Goeie voorbeeld van ’n swam is die blou skimmel wat op brood groei as dit ’n paar dae in ’n toe plastieksak gebêre word. Binne in die sak is dit bedompig en warm en die spore wat oral in die lug is, kry kans om te groei. Swamspore waai of spat op die nat wingerdblaar, loot of tros en ontkiem onder vogtige toestande.

Dit dring die blaar deur die huidmondjie of blaaroppervlakte in. Swamme voed op plantselle en vertak in alle rigtings, suig die selsap uit en die selle word bruin of grys. Hierdie dooie weefsel word bruin en later swart en terwyl swamdrade by huidmondjies uitgroei en wit en donsig vertoon.

Onder gunstige, vogtige toestande vermeerder die swam vinnig - swamspore word deur wind en water versprei na ander plantdele. Swamme kan oorwinter in besmette plantdele in of op die grond, of selfs in die ogie van die wingerdstok. Indien die infeksie reeds plaasgevind het, word swamme nie maklik beheer nie, maar goeie beheer word verkry met kontakmiddels wat voorkomend gespuit word.

Sistemiese middels word deur die plant opgeneem en dood die swamme van binne die plant. Die mees algemene swamsiektes is witroes (oïdium), donsige skimmel (Plasmopara viticola), streepvlek (Phomopsis viticola), botrytis (vaalvrot), tandpyn en ‘Black Goo’.

Translated by Marinda Louw