Die Speen van Konyne

© Karoline Steenekamp

Konyntjies drink aan hul ma vir ten minste vier weke, hoewel sy die hoeveelheid en kwaliteit van haar melk sal verminder sodra hulle vaste kos begin eet. Hulle kan op vier weke gespeen word. In hoëvlak, kommersiële konynboerderye word alle kleintjies op vier weke gespeen omdat die wyfies reeds weer gepaar is binne ‘n paar dae nadat hul geboorte geskenk het.
Afhangende van jou individuele teelstyl en voedingsmetode, word dit nie aanbeveel dat kleintjies so vroeg gespeen word nie. Wyfies kan eers op twee tot drie weke na die kleintjies se geboorte weer gepaar word as die wyfie in puik kondisie is. Die ekstra twee weke by hul ma gee aan die jongspan tyd om te leer by hul ma sodat hulle vol selfvertroue en sterk is.
Kleintjies wat te jonk gespeen word is dikwels gestres en stres is ‘n groot oorsaak van kleintjies wat doodgaan. Kleintjies wat gestres is, is ook geneig tot allerhande siektes. (Sien Welsyn).
Bepaal die geslag van die kleintjies wanneer hulle gespeen word, merk hulle met ‘n koki-pen waar moontlik, en skei die mannetjies van die wyfies. (Sien rekordhouding). Mannetjies en wyfies van twee of drie verskillende werpsels kan nou bymekaar geplaas word in groeihokke totdat hulle gereed is vir seleksie as toekomstige teelmateriaal, of verkoop of geslag word.
Maak seker dat jy die geslag reg bepaal. Gemengde mannetjeis en wyfies baklei meer as enkelgeslag groepe en net een mannetjie in ‘n wyfiekolonie kan reeds op vier maande die oorsaak wees van ‘n string onbeplande werpsels. (Sien foto’s van geslagsbepaling).

Translated by Elna Van Rhyn