Die Oes van Wyndruiwe

©Louise Brodie

Voor die druiweoes is dit belangrik om ‘n oesplan op te stel. Daarin word die verwagte tonnemaat, moontlike oesdatum, arbeidskoste, aantal werkers, huur van toerusting en vervoerkoste bepaal. Daar moet ook voorsiening gemaak word vir die beperking van oksidasie tydens vervoer, om kneusing van druiwe te beperk en om beroepsveiligheids en higiënevereistes na te kom.

Toerusting wat nodig is vir oes sluit in: Trekkers met druiwebakke. Genoeg plukkiste en oes-skêre vir elke druiwesnyer. Oes-kaartjies (dit word geknip om aantal kiste te bepaal per werker). Mobiele toilet en watertenk vir vars drinkwater. Noodhulptas met pleisters. Refraktometer om gereeld suiker te bepaal.

Hand-oes van Wyndruiwe

©Louise Brodie

Werkers sal ryp trosse met ’n pars-skêr afknip en in houers - onder of naby die stok - plaas. Sodra ’n houer vol is, word die houer in ’n druiwebak, plastiekhouers wat binne ’n houtkrat of ’n plastiek-massakrat leeggemaak. Sommige produsente oes druiwe direk in plukkiste wat dan vervoer word na die wynkelder.

Druiwebakke is normaalweg ’n staalbak met ’n kapasiteit van ± 5 - 6 ton, maar vragte moet so klein as moontlik gehou word om te verhoed dat die druiwe onder hulle eie gewig oopbars en sap vrystel. Vragte druiwe moet so gou as moontlik na die kelder vervoer word voor dit te lank in die son staan, begin oksideer en gis.

Soms word Kalium metabisulfiet (K₂S₂O₅) oor wit druiwe gestrooi om oksidasie vertraag en ongewenste wilde gisting verhoed. Na aankoms by die kelder kan druiwe oor ’n sorteertafel beweeg terwyl alle blare, groen, vrot of beskadigde korrels verwyder word voor dit gepars word.

Meganiese Oes van Wyndruiwe

’n Meganiese oesmasjien kan gebruik word by aangepaste (hoër) prieelstelsels. Trosse word deur glasvesel-stawe afgeskud, blare word deur wind verwyder uit die geoeste druiwe, waarna die korrels en trosse met behulp van vervoerbande na ’n druiwebak vervoer word.

Die voordele van meganiese oes is dat dit vinnig werk en die tyd tussen oes en lewering by die kelder baie korter is. Groot oppervlaktes kan per dag geoes word, min handearbeid word benodig en daar kan gedurende die koelste periode van die nag geoes word.

Die tydperk tussen die oes van die druiwe en lewering by die kelder is die kortste. Nadele sluit in moontlik beskadiging van lote en stokke en dat groen en siek trosse ook geoes word.

Translated by Marinda Louw