Die Melk van Melkbokke

© Chris Daly
Melkproduksie van die melkbokooi bereik ‘n piek in die eerste maand of twee nadat sy gelam het. Kolostrum, die eerste melk uit die uier, is noodsaaklik vir die lam se immuunsisteem. Lammers kan na ‘n week van hulle ma af weggeneem word en apart grootgemaak word op 1 liter melk per dag, of een of ander melkplaasvervangingsproduk. Die hoë opbrengs Saanenbok kan 1200 liter melk produseer oor ‘n tien maande tydperk. ‘n Bok se leeftydsproduktiwiteit hang af van haar vrugbaarheid, melkproduksie, siektes (kry sy mastitis?) en liggaamsvorm soos ‘n goeie uier en sterk bene.

Toerusting om Bokke te Melk

©Gavin Cressley Fire Fly Farm.J
Om bokke te melk het ‘n mens ‘n skoon plek nodig en water en ‘n skoon emmer. ‘n Melkstaander kan ook aangekoop word. Die melkery behoort vir die bokke ‘n aangename ervaring te wees. Gee vir hulle voer terwyl hulle gemelk word. Melkbokke moet sagkens en met sorg hanteer word. Om met die hand te melk is uitputtend en die gemiddelde melker mag te moeg word as hy/sy langer as twee ure aanmekaar bokke moet melk. Oorweeg dit om ‘n melkmasjien te koop maar wees versigtig om nie ‘n masjien te koop wat binnekort te klein gaan wees nie. Melk moet so gou moontlk afgekoel word to 4°C. In die geval van groot hoeveelhede melk kan jy dit oorweeg om ‘n verkoelingstenk te koop wat ook in die toekoms groot genoeg sal wees om groterwordende hoeveelhede melk te verkoel.

Melkhigiëne

©Chris Daly
Soos met enige melk is higiëne van die grootste belang. Die melk moet so skoon as moontlik wees en moet afgekoel word tot by 4°C en daar gehou word. Daar is altyd bakterieë in rou melk, so higiëniese praktyke moet streng gevolg word. Tensy melk koud gehou word, (minder as 4°C) sal bakterieë vinnig vermeerder en die melk bederf. Die beste ding om te doen is om die melk te verhit en so enige bakterieë daarin te vernietig. Dis nie nodig om die melk te kook nie omdat dit die geur van die melk sal verander. As die melk egter by 63°C gehou word vir 30 minute, sal die bakterieë dood wees, maar die geur en voedingswaarde sal minimaal verander wees, indien enigsins. Hierdie proses word pasteurisasie genoem. Moderne pasteurisasiemasjiene verhit melk tot by 73°C vir 15 sekondes.

Verpakking van Melk

Houers vir bokmelk moet in ‘n steriele kondisie aangekoop word en is nie geskik vir hergebruik nie. Die gepasteuriseerde melk kan in steriele plastiek-of glasbottels gegooi word en verseël word met aluminiumfoelie doppies of skroefproppe. Gepasteuriseerde melk kan ook verpak word in steriele plastieksakkies of kartonnetjies wat met was verseël is. Klein hoeveelhede melk kan met die hand in houers gegooi word, maar groot hoeveelhede melk sal ‘n verpakkingsmasjien vereis.

Translated by Elna Van Rhyn