Die Gebruike van Karob

© Keith McDuffee
Karobbome/johannesbroodbome (Ceratonia siliqua) produseer leeragrige saadpeule wat bruin raak soos hulle ryp word. Die peule het ‘n soet pulp (vlees) en klein saadjies.
Karobsade bevat hoë hoeveelhede natuurlike suikers, proteïene, vitamien A, B vitamines, minerale soss kalsium, silika, yster en fosfor, en bevat minder as 1% vet.
Nadat die bruin peule geoes is, word hulle oopgebreek en die sade verwyder. Die leë peule word dan gewas, gerooster (wat ensieme aktiveer) en gemaal. Die fyn bruin poeier word gebruik as kakao maar sonder dat suiker nodig is. Anders as kakao, bevat karob nie kaffeïne, theobromien (‘n stimulant wat hoofpyn kan veroorsaak) of oksaalsuur nie.

In voedselbereiding produseer karobmeel, gemeng met afgeroomde melkpoeier, ‘n plantolie en sojalesitien, ‘n soliede karobbestanddeel wat in vele voedselprodukte benut kan word.

Permaculture News beveel die volgende proses aan waardeur karobsaadpoeier tuis berei kan word. Was die ryp (bruin) peule en kook tot sag in net genoeg water om te bedek. Die kookproses maak die peule sag en maak dit makliker om hulle oop te maak en die sade te verwyder. Kap die peule in klein stukkies en laat goed droog word voordat hulle gemaal word tot ‘n poeier.

Karobsaadgom

Karobsade bevat tot 35% gom wat gebruik word in die vervaardiging van gom, grimering, farmaseutiese produkte, skoonmaakmiddels, verf ink, skoenpolitoer, in die tekstielindustrie, in fotografiepapier, insekweermiddels en vuurhoutjiekoppies.
In die vervaardiging van rubber-lateks word springkaanboontjiegom bygevoeg om die vaste stowwe te laat dryf. Dit word ook gebruik om papierpulp te laat bind en om syskermpastas mee te verdik.

Karobsaadgom (ook genoem springkaanboontjiegom) word in die voedselindustrie gebruik as ‘n verdikker en stabiliseerder van emulsies in voedsels soos gebakte produkte, slaaisouse, souse, salami, geblikte vleis en vis, jellie en mosterd.

Die peule kan gekou word as lekkergoed, maar word industrieel geprosesseer tot ‘n kakao-geurige meel wat by warm of koue melk gevoeg kan word om te drink. Dit kan ook met koringmeel gekombineer word vir brood en pannekoeke en word gebruik as ontbytvoedsel. Die fyner meel word gebruik in lekkergoedstafies en die gemaalde peule word in water gekook om ‘n dik stroop te maak.

Nadat die gom onttrek is uit die karob-pulp, kan die saad-residu verwerk word in ‘n hoë-proteïen (60%), stysel-en suikervrye meel wat geskik is vir diabetiese gebruik.

Ander Gebruike van Karob

In Duitsland en Spanje word geroosterde karobsade wat kaffeïne-vry is, as plaasvervanger vir koffie gebruik, of met koffie gemeng. Infusies van die karob-pulp kan gis word om alkoholiese drankies te produseer.

In Suid-Afrika word karob-/johannesbroodbome geplant langs strate, paadjies en in parkeerareas, omdat hulle immergroen en gehard is en min water benodig. Die digte blare van die karobboom funksioneer as ‘n lawaaidemper en dit word dikwels as windlaning langs boorde geplant.

Navorsing deur Lucas Iipumpbu het bewys dat karob die potensiaal het om te ontwikkel in ‘n hoë-waarde kontantgewas in Suid-Afrika weens die industriële aanvraag na karobsaad en –gom.

Translated by Elna van Rhyn