Botterskorsie

© Louise Brodie
Algemene naam: Botterskorsie
Wetenskaplike naam: Cucurbita Moschata

Plant Beskrywing

Botterskorsies is deel van die cucurbit groente familie. Ander groentes sluit murgpampoentjies, komkommers en pampoene in. Dit groei plat op die grond en die stamme en stingels ontwikkel tot ’n rankplant. Die plant het groot, ronde en hartvormige blare. Die plant is monoecious (eenhuisig), wat beteken dat beide manlike en vroulike blomme aan een plant gedra word. Die vroulike blomme wat die vrugte dra is groter as die manlike blomme. Die vrug is silindervormig en bult uit aan die kant waar die saad geleë is.

Gebruike

Die volwasse botterskorsie kan gerooster of gekook word. Daar kan ’n puree van gemaak word vir sop en dit kan ook verwerk, gebottel of geblik word. Dit is ’n goeie bron van vesel en is baie voedsaam. Botterskorsies is ryk aan kalsium, vitamien A, C en E. Die blare en blomme kan ook as ’n groente op hulle eie geëet word of in kombinasie met ander groentes of proteïene.

Grondvereistes en Voorbereiding

Botterskorsie, net soos ander groente van die cucurbit-familie, verkies sanderige leemgrond wat goed dreineer en oor baie organiese materiaal beskik. Die grond se pH moet tussen 6 en 6.8 wees. As die grond te suur is moet daar met die eerste omploeg van die land kalk bygevoeg word.
Begin die grond ses weke voor die beoogde plantdatum voorberei. As die grond gekompakteer is, moet dit behoorlik omgeploeg word. As organiese materiaal of kalk nodig is word dit tydens hierdie proses saam met die kompos of mis ingeploeg. Die grond moet tot ’n diepte van 300 - 400 mm geploeg word om die kompos en kalk deeglik in te meng. Dit is beter om die land twee keer om te ploeg en ook die tweede keer teen ’n ander helling as die eerste keer te ploeg. Trek ’n skotteleg oor die land om enige klonte op te breek en die grond gelyk te maak.
Dit help ook om onkruid uit te roei. ’n Paar dae voor planttyd kan die land ’n laaste keer met ’n skottelploeg omgeploeg word om die onkruid wat begin groei het uit te haal. Hierna kan die plantrye effens opgeërd of gelyk gemaak word om ’n bedding waarin die botterskorsies geplant sal word voor te berei.

Klimaat

Botterskorsie is ’n warm klimaat plant en word dus in die lente en vroeë somermaande geplant. In Suid-Afrika is dit vanaf Augustus tot Desember. Die plant is baie sensitief vir ryp en lang koue periodes van onder 4°C kan dit doodmaak. As daar tydens die groeiperiode lang tydperke met temperature bo 35°C is ontwikkel daar meer manlike blomme wat nie vrug dra nie. Die groei word belemmer tydens lang tydperke met temperature onder 12°C.
Botterskorsie kan egter van so vroeg as Julie tot einde Februarie geplant word indien die klimaat ideaal is. Die optimale ontkieming temperatuur gedurende die dag is tussen 20°C en 30°C en die beste groei temperatuur is tussen 22°C en 32°C. Die nagtemperatuur moet nie laer as 16°C wees nie.

Kultivars

Kultivars is Apollo, Arela, Atlas, Carmela, Cosmos, Pilgrim, Pluto, Sheba, Titan en Waltham wat die oorspronklike variëteit is. Daar is ook nuwe “baba” botterskorsie variëteite soos Barbara beskikbaar.

Translated by Ananda Schoeman