Bokboerdery in Suid-Afrika

© Roger de la Harpe
Suid-Afrika boer op relatiewe klein skaal met bokke, met ongeveer 3% van Afrika se bokke en minder 1% van die wêreld s’n. Daar word oral in die land met bokke geboer, met die meeste (70% van alle lewende bokke) in die Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal. Bokke word aangehou vir vleis-, melk- en veselproduksie (sybokhaar en ‘n bietjie kasjmier).

Vleis, Melk en Veselbokke

©SA Milch Goat Breeders Society
Die belangrikste kommersiële bokrasse vir vleis is die Boerbok, Savanna- en Kalahari Red-bokke wat ook klein hoeveelhede kasjmier kan lewer. Bokvleis word genoem chevon (van volwasse bokke) en cabrito (van lammers). Chevon bevat tussen 50-60% minder vet as beesvleis, maar het dieselfde proteïene inhoud. Chevon se vetinhoud is ook laer as dié van hoender. Lesotho is die vernaamste invoerder van chevon en het in 2016 74% van Suid-Afrika se chevon ingevoer.

Die benutting van die vesels as ‘n addisionele bron van inkomste sal bokboerdery in Suid-Afrika meer lonend maak. Daarmee saam kan die ontwikkeling van klein agri- industrieë wat die vesels in tekstiele verwerk werksgeleenhede in die platteland skep. Navorsing wat in Suid-Afrika gedoen is het bewys dat inheemse bokke soos die Boerbok, se haarkleed uit twee lae bestaan – ‘n growwe bolaag en ‘n fyner onderlaag (kasjmier).

Die hoeveelheid kasjmier is egter oor die algemeen nie op ‘n kommersieel-aanvaarbare vlak nie. Die kasjmier produksiekapasiteit van boerbokke moet gesien word in die lig daarvan dat hulle tans hoofsaaklik benut word vir hul vleis en melk en dat die kasjmier wat hulle produseer glad nie benut word nie. Dis juis waarom dit belangrik is om ‘n balans te vind tussen vleis en veselproduksie.

Angorabokke (Capra hircus aegagrus) produseer sybokhaar terwyl die Russiese Gorno Altaibokke kasjmier produseer – ‘n baie fyn vesel van 18,5 mikrometer en fyner. Suid-Afrikaanse boere lewer amper 60% van die wêreld se sybokhaar, meestal in die Karoo-gebied van die Oos-Kaap, en die meeste daarvan word uitgevoer deur Port Elizabeth se hawe. Bokrasse vir melkproduksie is die Saanen, Toggenburg en Britse Alpe bokke. Hierdie bokke word melkbokke genoem. Bokmelk word hoog aangeprys vir kwaliteit. Bokmelk het ‘n laer laktose-inhoud as beesmelk en bevat geen A1 kaseïen nie, ‘n proteïene wat inflammasie in baie gebruikers kan veroorsaak.

Inheemse Bokke in Suid-Afrika

©Marinda Louw
‘Inheemse bokke’ verwys na verskeie bokrasse van kleinskaalse produsente en dra hoofsaakllik by tot gesinsbehoeftes aan vleis en in ‘n mindere mate melk, afhangende van die voorkeure van die gemeenskap. Inheemse bokke lewer ook kasjmier in die winter. Die inheemse bok word hoofsaaklik aangetref in die Oos-Kaap provinsie. Hierdie bok word nie as ‘n vleisras of ‘n melkras beskou nie omdat dit slegs genoeg melk produseer vir sy eie lammers.

Kommersiële bokboere boer hoofsaaklik met Boerbokke en Angorabokke terwyl kleiner boere hoofsaaklik met inheemse bokke boer in ‘n kommunale boerderysisteem. Inheemse bokke verteenwoordig ongeveer 65% van alle bokke in Suid-Afrika, maar uit ‘n sorgvuldige seleksie-en kruistelingsproses van inheemse bokke is die Boerbok, Kalahari Red en Savanna ontwikkel.

Translated by Elna Van Rhyn