Basiese Beginsels van ‘n Melkery

©Rykie Visser Agrinet
Beginner-melkboere behoort kennis te dra van ‘n paar basiese beginsels omtrent melkbeesboerdery en melkkoeie. Dié beginsels verduidelik waarom spesifieke bestuursaksies nodig is om ‘n finansieël volhoubare besigheid te bedryf. Melkkoeie is die produksie-eenhede van ‘n melkery. Wanneer met ‘n nuwe melkery begin word, moet koeie wat in melk is (lakterend) eerste aangekoop word. Sodoende word ‘n onmiddelike kontantvloei uit melkverkope vir die nuwe melkboerdery geskep. ‘n Melkkudde het as ‘n reël ook droë koeie (koeie wat nie-lakterend is nie) nodig asook verse van verskillende ouderdomme om aanhoudende melkproduksie en kuddegroei te verseker.

Die Spysverteringstelsel van Melkkoeie

Melkkoeie is herkouers en het daarom 'n unieke spysverteringstelsel. (Herkouers soos koeie, bokke en skape vreet en verteer plantgebaseerde voere soos gras). Die vertering van voere in herkouers vind plaas in 'n maag wat uit vier kamers bestaan. Dit stel hulle in staat om voere soos hooi, kuilvoer, weiding en strooi te benut, d.i. voere wat nie algemeen deur mense gebruik word nie.

Die herkouermaag bestaan ​​uit die retikulum, rumen, omasum en abomasum. Hierdie vier kompartemente funksioneer as 'n enkele eenheid. Die rumen het ‘n kapasiteit van ongeveer 160 liter en maak sowat 80% van die herkouermaag uit. Die herkouermaag is eintlik 'n fermentasiehouer wat groot hoeveelhede anaërobiese bakterieë bevat (anaërobiese bakterieë leef in die afwesigheid van suurstof). Daar is ook protosoë en ander organismes wat in simbiose met die herkouer leef. (Simbiose is 'n noue biologiese interaksie tussen twee verskillende biologiese organismes). Hierdie organismes verteer die voere wat gevreet word om sodoende energie en proteïene aan koeie te verskaf om melk te produseer. Wanneer bakterieë later in die abomasum doodgaan, word dit as bakteriële proteïene deur die koei benut.

‘n Gesonde rumen word verseker deur 'n voldoende hoeveelheid ruvoer (gras, hooi, kuilvoer of strooi) in die herkouer se daaglikse dieet. Aangesien die energie- en proteïenvlakke van ruvoere as ‘n reël laag is, word gekonsentreerde voere soos grane (mielies, koring, gars of hawer) en proteïenbronne (vismeel, katoensaad-olie-koekmeel of sojaboonmeel) gevoer om die melkproduksie van koeie te verhoog. Dié verskillende voere word gewoonlik gekombineer met minerale en sout in 'n konsentraatmengsel of suiwelmeel.

Die Melkproduksie van Melkkoeie

©Dr Carel Muller
Om 'n laktasieperiode te begin (om melk te produseer), moet koeie kalf (geboorte gee aan ‘n kalf). ‘n Bul- of verskalf word gewoonlik gebore. Bulkalwers wat nie vir teeldoeleindes grootgemaak word nie, word gewoonlik op ‘n vroeë ouderdom geslag. Kalfsvleis word as sodanig geklassifiseer wanneer die karkas 100 kg of minder weeg. Bulkalwers kan ook as ossies vir beesvleisproduksie grootgemaak word. Verskalwers word benodig om koeie te vervang wat uit die kudde geskot word. Verse word sodanig gevoer om vir die eerste keer op sowat 24 maande ouderdom te kalf.

Die grootmaakkoste van verse is minder wanneer hulle op ‘n vroeë ouderdom kalf. Die grootmaakkoste van verse word verhaal tydens die daaropvolgende melkproduksiestadium of laktasieperiodes. Verse kan ook verkoop word indien die verkoopspryse hoër is as hul grootmaakkoste. Die melkproduksievermoë van melkkoeie hang af van hul genetiese meriete en omgewingsfaktore. Omgewingsfaktore sluit in temperatuur, reënval, melkstalroetine en voerkwaliteit. Hiervan het die kwaliteit van hul voer die grootste invloed op produksie.

Die daaglikse melkproduksie van koeie volg 'n spesifieke patroon. Na kalf neem die melkproduksie van koeie toe en bereik ‘n piek sowat ses tot agt weke later. Na die piekproduksie word die hoë melkproduksiepeil gewoonlik gehandhaaf, waarna dit stadig begin afneem soos koeie langer in melk is. Die tempo waarteen die daaglikse melkproduksie van koeie na piekproduksie afneem, is 'n aanduiding van die volhoubaarheid van produksie. Volhoubaarheid in melkproduksie word as 'n verhouding beskryf, byvoorbeeld: melkproduksie op dag 240 is 15 liter in vergelyking met melkproduksie op dag 60 wat 30 liter is. Die verhouding is 15 liter/30 liter = 50%. Hoe hoër die verhouding, (byvoorbeeld 15/20 = 75%) hoe beter is die volhoubaarheid van melkproduksie.

Die afname in melkproduksie word beïnvloed deur beide die koei se voerprogram en haar genetiese meriete. Die hoeveelheid melk wat ‘n koei oor die laktasieperiode produseer, is 'n kombinasie van haar aanvangs- en piekmelkproduksie en die volhoubaarheid van haar melkproduksie na die piek. Die produktiewe leeftyd (alle dae in melk) van koeie bepaal hul leeftydswinsmarge. Die hoeveelheid melk wat 'n koei gedurende haar eerste laktasie produseer gee 'n goeie aanduiding van hoeveel melk sy in haar leeftyd kan produseer. Dit kan dus 'n goeie aanwyser wees om te besluit of 'n koei aangekoop moet word.

Na kalwing is koeie gewoonlik vir ongeveer 300 dae in melk, waarna hulle opgedroog word om voor te berei vir die volgende laktasie. As dit moeilik is om koeie dragtig te kry, mag die laktasieperiode langer as 300 dae in melk wees. Hulle moet egter minstens 50 tot 60 dae voor die volgende verwagte kalfdatum gedroog word.

By Dr Carel Muller