Aspersie

© Louise Brodie

Wetenskaplike naam: Asparagus officinalis

Plant Beskrywing

Die aspersie is ’n meerjarige plant en van die Asparagaceae familie. Die plant groei vanuit ’n ondergrondse risoom wat ’n kroon genoem word. Verskeie lote spruit vanuit hierdie kroon en groei bo-op die grond. Dit is die deel van die aspersie wat geoes en geëet word. Die lote, wat aspersiepunte genoem word, word geoes as dit 15 cm – 20 cm lank, nog nie volgroeid en nog steeds sag is. As die lote toegelaat word om langer te groei, verhard die stingels en bring dit takke met varingagtige blare voort.
Die plant kan meer as twee meter hoog word. Klein rooi bessies sal op die takke vorm en dit ontwikkel later in die saad wat gebruik word vir voortplanting. As die aspersie in die laat herfs of vroeë winter dormant is, kan die takke teruggesny en die sade wat daaraan is bymekaargemaak word.

Gebruike

Die aspersie is ’n groente wat gekook, gestoom, gebraai of rou in slaai geëet word. Dit word ook geblansjeer en in blikkies verkoop. Die aspersie is ryk aan vitamiene A, B6, C, E en K asook foliensuur, kalsium en yster. Daar word beweer dat dit nierstene voorkom.

Grondvereistes en voorbereiding

’n Behoorlike grondanalise moet voor aanplanting gedoen word. Aspersies kan vir 15 jaar lank op dieselfde stuk grond produktief bly, daarom is grondvoorbereiding so belangrik. Die aspersie gedy in sandgrond of sanderige leemgrond met ’n pH van 6 tot 7. Die grond moet ’n maand voor aanplanting tot ’n diepte van 600 mm omgeploeg word.
Indien die grond te suur is moet kalk bygevoeg word om die pH tot bo ses te bring. Daarna moet die grond tot ’n diepte van 400 mm - 500 mm omgeploeg word. Organiese materiaal kan nou in die grond ingewerk word. ’n Maand later, met planttyd, moet chemiese kunsmis in die boonste 20 cm grond ingeploeg word. Dit maak ook die area skoon en gelyk en raak dus ontslae van enige onkruid wat opgekom het. Die aspersiekrone kan nou geplant word.

Klimaat

Die aspersie kan onder verskeie klimaatstoestande geplant word. Die ideale temperatuur gedurende die produksie en oestyd is tussen 15°C en 26°C. Temperature onder 12°C lei tot vertraagde groei en dus laer opbrengste. Hoër temperature lei tot meer vesel in die aspersiepunte wat dit onsmaaklik en dus minder bemarkbaar maak.

Kultivars

Variëteite sluit Mary Washington, California 500, Connover’s Colossal in. Baie ander kruisings, onder andere UC66, UC72 en UC157, word vir hulle unieke eienskappe soos langer, sterker aspersiepunte en ’n groter weerstand teen sekere siektes ontwikkel. Dit is raadsaam om jou plaaslike landboukundige oor die beste kultivars vir jou spesifieke klimaat en grondsoort te raadpleeg.

Translated by Ananda Schoeman