Wes-Kaap Provinsiale Wapen

Die nuwe Provinsiale Wapen van die Wes-Kaap is in 1998 aanvaar en bekend gestel. Hierdie wapen is deur Fred Brownell ontwerp. Hy het deeglike navorsing gedoen en die verteenwoordigers van al die politieke partye in die provinsiale regering geraadpleeg. 

Die elemente van die ontwerp is gekies om die Wes-Kaap se uniekheid te weerspieël. Die blou basis is verteenwoordigend van die Wes-Kaap se kenmerkende natuurwonder, naamlik Tafelberg. Regoor die basis tussen volstruisvere is die leuse, Spes Bona, wat “Goeie Hoop” beteken.

Die volstruisvere verteenwoordig die Klein-Karoo. Bo-op die basis is ’n skild wat ’n anker, tros druiwe en in die middel ’n kleipot bevat. Die anker simboliseer hoop, standvastigheid, geloof en die provinsie se maritieme geskiedenis.

Die druiwetros verteenwoordig die belangrikheid van landbou en die natuurlike wynproduksie in die Wes-Kaap. Die kleipot simboliseer produksie en is ’n artefak van die vroeë inwoners van die Kaap, die Khoi.

©Nigel Dennis

Die skilddraer aan die linkerkant is ’n kwagga (Equus quagga quagga) en aan die regterkant is ’n bontebok (Damaliscus dorcas dorcas). Die kwagga het uitgesterf, maar navorsers is besig om ’n gespesialiseerde teelprogram vir ’n nuwe populasie te begin.

Die bontebok was eens ’n bedreigde spesie, maar tans is daar ’n lewensvatbare populasie. Bo-op die skild is ’n kroon, wat bestaan uit ’n kralekrans soos wat die San gedra het en ’n afwisselende versiering van proteas en ringe.

Die protea simboliseer die fynbos wat in die provinsie voorkom en die ringe is simbolies van perfeksie aangesien daar geen einde of begin is nie. Die nuwe Provinsiale Wapen van die Wes-Kaap se doel is om die identiteit en waardigheid van die provinsie te bevorder.

Translated by Ananda Schoeman