Waatlemoen

© Louise Brodie
Algemene naam: Waatlemoen Wetenskaplike naam: Citrullus Lanatus

Plant Beskrywing

Waatlemoen het vermoedelik in Afrika se droë en semi-droë gebiede ontstaan. Dit word deesdae regoor die wêreld geplant. Waatlemoen is ’n cucurbit en deel van die Cucurbitaceae familie.

Dit is ’n plat rankplant met stingels wat op die grond versprei is. Die plant produseer beide manlike en vroulike blomme. Die waatlemoen het ’n uitgebreide vlak wortelstelsel en dit is dus baie belangrik om onkruid te beheer en dit gereeld nat te hou aangesien die meeste wortels in die boonste 20 cm geleë is.

Hierdie wortels kan regoor die area wat deur die blare en ranke bedek word strek. Dit het ook ’n penwortel wat tot ongeveer 40 cm lank is. Die vrug het ’n donkergroen skil en donkerrooi vleis as dit ryp is. Daar is deesdae waatlemoene met swart, geel en dowwe skille en vleis wat rooi, geel, oranje en wit is.

Gebruike

Waatlemoen word meestal vars geëet en word ook versap. Die vrugte en skil word ook ingelê of konfyt van gemaak.

Grondvereistes en Voorbereiding

Waatlemoen vereis ’n sanderige leemgrond met ’n pH tussen 6 en 7. Die grond moet ’n goeie organiese samestelling hê, anders moet kompos, mis of ’n dekgewas bygevoeg word. ’n Dekgewas is altyd ’n goeie idee aangesien dit ook onkruid beheer en verdere organiese materiaal by die grond voeg.

Saai die dekgewas tien tot twaalf weke voor planttyd en bedek die saad liggies met grond. Dit maak ook die oppervlak gelyk. Dit is raadsaam om ongeveer 14 weke voor die verwagte plantdatum grondmonsters te neem en volgens die analise se aanbevelings op omtrent 12 weke voeding toe te dien.

Dit kan kalk vir die pH, gips vir kalsium of organiese materiaal in die vorm van mis of kompos wees. Volg dit deur die grond tot ongeveer 500 mm om te ploeg sodat alles deeglik ingemeng is. Hiermee word ook enige oorblyfsels van die vorige gewas en onkruid wat moontlik gegroei het ingeploeg.

Drie tot vier weke voor planttyd word die dekgewas afgesny en saam met kompos of mis tot ’n diepte van 400 - 500 mm ingeploeg. Gebruik ’n skotteleg om die oppervlak gelyk te maak en enige klonte op te breek.

Los die grond dan ’n rukkie om te rus. In die laaste week voor planttyd moet kunsmis en spoorelemente soos boor en sink wat na die grondanalise voorgestel is met ’n skotteleg in die boonste 20 cm grond ingeploeg word.

Die onkruid wat moontlik gegroei het word ook so uitgewis. As die beddings opgeërd word, besproeiing gelê word of ’n plastiek deklaag nodig is word dit ook op hierdie stadium gedoen. Die grond is nou reg vir die plant van waatlemoen saad of saailinge.

Klimaat

Waatlemoene, soos met alle ander groente van die cucurbit familie, is ’n warm-klimaat gewas en groei goed in temperature tussen 18°C en 30°C.

Die groei word vertraag as die temperatuur onder 10°C daal en die plant is baie sensitief vir ryp. Die plant kan vrek as dit vir lang periodes aan temperature onder 5°C blootgestel word. Oormatige hoë temperature van meer as 35°C is ook skadelik vir die plant en verwagte opbrengs.

Kultivars

Daar is amper ’n honderd verskillende soorte waatlemoene, met nuwe kruisings wat steeds ontwikkel word aangesien smake en die mark verander. Die belangrikste tipes wat in Suid-Afrika geplant word, is All Sweet, Crimson Sweet en Super Small. Daar is ook saadlose variëteite.

Die volgende variëteite is in Suid-Afrika beskikbaar: Sugar sweet, Charleston, Congo, Sugar baby, Moon and Stars, Daytona, Sensei, White wonder, Yellow Petite en Starlight. Die beste manier om op een te besluit wat vir die area se spesifieke groeitoestande geskik is, is om die raad van die plaaslike landbou-voorligtingsbeampte of saadhandelaar te vra.

Translated by Ananda Schoeman