Vredefort se Fauna en Flora

© David Fleminger

Die Grasland-Bioom

Die Vredefortkoepel is in die grasland-bioom tussen die Hoëveld en die Transvaalse platorand geleë. Die grasveld word gewoonlik as Bankenveld beskou. Die unieke geologiese erfenis van die gebied het baie ongewone variëteite tot gevolg, byvoorbeeld wilgers, rooi-ivoor en boomvarings wat in die bosveld honderde kilometer verder noord aangetref word. Die rivierbos langs die oewer van die Vaal dra ook tot die biodiversiteit by.
Hier kom ’n verskeie mikro-habitatte, mikroklimate en grondtipes voor wat die plante laat gedy. ’n Volledige lys van die flora is nog nie voltooi nie, maar daar is minstens 99 plantspesies in die omgewing. Wilde olyfbome is veral algemeen en die wêreld se grootste natuurlike plantasie van hierdie spesie (Olea europaea subsp. Africana) word op ’n koppie net buite Parys aangetref. Akasia en protea spesies is ook wydverspreid.

Uitheemse Plantspesies

Uitheemse plantspesies is ’n probleem in die Vredefortkoepel. Bloekombome lê langs die vrugbare Vaalrivier se vloedvlakte. Populierbome, treurwilgerbome en verskeie turksvy spesies verdring ook die inheemse plantegroei. Waterhiasinte is ’n besondere oorlas in die Vaalrivier omdat dit die waterweë verstop. Heelwat werk sal gedoen moet word om die gebied na die vroeë inheemse prag te herstel.
Die voëllewe is egter volop, met meer as 200 spesies om die voëlkykers gelukkig te hou. Dit sluit die volgende spesies in: kormorante, reiers, lepelaars, aasvoëls, arende, valke, tarentale, kiewiete, ruiters, uile, naguile, windswaels, muisvoëls, visvangers, troupante, swaels, tinktinkies, spreeus, suikerbekkies, langstertflappe, vinke, langstertjies en spekvreters. Die Inlandsee pan, naby Vredefort, is ook ’n belangrike bymekaarkomplek vir trekvoëls.

Rooi Data Lys Spesies

Alhoewel die Vredefortkoepel voorheen die Groot 5 se tuiste was, is al die groter diere soos boere die land oorgeneem het uitgeroei. Tog is daar nog 50 spesies kleiner soogdiere wat hier gevind kan word, insluitend agt Rooi Data Lys spesies. Luiperds, rooikatte, aardwolwe, jakkalse, dassies en verskeie wildsbokke is hier teenwoordig. Die omgewing se wildsplase en natuurreservate hervestig tans die wildlewe van die streek.
Vredefort het ook baie reptiele, slange, skerpioene en insekte. Daar is ’n merkwaardige rykdom van skoenlapperspesies, so as jy ’n lepidopteroloog is, is dit die plek vir jou! Daar word trouens gesê dat daar meer skoenlapperspesies in die Koepel is as in die hele Britse Eilande.
Benewens die Vaalrivier kry die Vredefortkoepel ’n goeie gemiddelde reënval van 625 mm, waarvan 500 mm in die somermaande is. Droogtes is egter nie ongewoond nie. Die somertemperature is warm en wissel met ’n minimum van 15°C en ’n maksimum van 30°C. Die winterdae is warm, sowat 18°C, maar die nagte kan ysig koud word.

Translated by Ananda Schoeman