Vleisbokboerdery in Suid-Afrika

© Gerrit dos Santos
Bokke produseer vesel, velle (huide) en melk, maar die hoofrede vir bokboerdery is hul vleisproduksie. Dit het bygedra daartoe dat vleisbokke die grootste proporsie van die wêreld se bokbevolking uitmaak.
Bokvleis is afkomstig van uitgeskotte Boerbokke, inheemse bokke en ouer Angora - en melkbokke. Chevon is afkomstig van manlike boerboklammers. Ander produkte soos suiwelprodukte en sybokhaar word beskou as óf primêre óf sekondêre produkte.
Die kommersiële uitskotting van bokke word beïnvloed deur die ekonomiese waarde van hierdie produkte – m.a.w., swak-presterende melk-en ouer veselbokke word geslag vir vleis. Die tradisionele slag van bokke vir die kulturele gebruik van bokvleis is egter steeds die spil waarom bokvleisboerdery draai in Suid-Afrika. Dit word aangevul deur Boerbokke en op beperkte skaal (seisoenaal) deur ouer Angorabokke.
Die meerderheid bokke (meestal inheemse of kruisrasse) wat vir bokvleis geslag word in Suid-Afrika, word op tradisionele wyse geslag en gebruik vir kulturele en godsdienstige doeleindes.
Boerbok SA beveel aan dat vleisboklammers vanaf 3 tot 12 maande bemark word sodat ‘n karkas nie swaarder as 23 kg is nie.

Volgens die Suid-Afrikaanse Departement Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF), word bokke oor die hele land aangetref met 39% in die Oos-Kaap, 18% in Limpopo, en 13% in KwaZulu-Natal. Hierdie provinsies lewer 70% van die totale aantal lewendige bokke wat in Suid-Afrika produseer word (2017 opname).

Slag van Bokke

Na beraming beweeg tussen 0.5 tot 5% van alle bokrasse wat in Suid-Afrika geslag word deur formele abattoirs.
Bokke vir die informele mark word meestal lewend verkoop en dan volgens tradisionele gebruike geslag. Bokke word op ‘n spesiale manier geslag vir troues: daarvolgens word die bokvleis slegs deur sekere individue geët.
Tydens begrafnisrituele moet tradisionele helers die bloed van die bok drink en die galblaas van ‘n bok as hooftooisel dra.
Na manlike inisiasieseremonies vier die geïnisieerdes hul deurgangsrites met gebraaide bokvleis en mieliemeel.

Volgens die Kalahari Kid Corporation, voldoen die kommersiële slag van bokke by ‘n uitvoer-goedgekeurde abattoir, ZA105 in Groblershoop in die Noord-Kaap, aan die strengste Halaal en ISO standaarde. Die Colesberg abattoir word ook gebruik en indien nodig, die abattoir in De Aar.

Translated by Elna Van Rhyn