Die Richtersveld se Boesmans

Jagter-Versamelaar Leefstyl

©Shem Compion
Dit is moeilik om te sê wanneer die Boesmans (of San) as ’n afsonderlike kulturele groep ontwikkel het. Sommige beweer dat dit so lank terug is as 40 000 of 30 000 jaar gelede toe ’n lang droë tydperk die mense in die suidwestelike deel van die subkontinent van die swart stamme in die noorde geskei het. Die Boesmans het Laat Steentydperk tegnologie, wat lemme, boorpunte en pylpunte waarvan baie aan houtspane vasgemaak is om spiese of messe te vorm, gebruik en verfyn.
Die Boesmans het ook ’n sosiale struktuur wat rondom hulle tradisionele jagter-versamelaar lewenstyle gedraai het ontwikkel. As ’n reël was dit die mans wat gejag het terwyl die vrouens bolle, bessies en ander plante versamel het. Hulle begrip van die natuur het hulle in harmonie saam met die wildlewe en seisoene in die land laat rondbeweeg.

Petrogliewe

Die Boesmans het wat hulle godsdiens betref ’n gesofistikeerde ideologie geniet wat die daaglikse lewe met die geestelike wêreld kombineer. Dit word in hulle talle rotsskilderye, wat dikwels shamanistiese danse illustreer, uitgedruk. In die Richtersveld is daar egter geen rotstekeninge geïdentifiseer nie.
In plaas daarvan vind ons petrogliewe – rots-grafeerwerk. Daar word op die oppervlak van rotse met ’n skerp voorwerp of hamer tekeninge uitgekap. Hierdie raaiselagtige en pragtige petrogliewe wissel van abstrakte geometriese patrone tot meer realistiese uitbeeldings van diere soos sebras en elande.
Die studie van hierdie petrogliewe is nog in sy kinderskoene en ongelukkig is baie van die terreine beskadig deur mynbou en/of onverskillige besoekers. Toegang tot die meeste van hierdie areas is deesdae beperk om verdere skade te voorkom.
Daar het relatief min Boesmans in Namakwaland en die Richtersveld gewoon. Dit is immers ’n dorsland met slegs ’n paar betroubare waterbronne. Die kus was ’n beter proposisie en daar is ’n aantal argeologiese terreine wat ’n beduidende verhouding tussen die Boesmans en die seelewe soos robbe en skulpvis aandui.
Hierdie kus bevolking is “Strandlopers” genoem. Bewyse van hulle lewe hier word op verskillende plekke langs die oewers van Namakwaland en inderdaad die meeste van suidelike Afrika gevind.

Translated by Ananda Schoeman