Rondom die jaar 1550 het Malandela, 'n hoof met 'n klein groepie volgelinge, homself gevestig aan die voet van die Amandawe Heuwel op die suidelike oewer van die Umhlatuze net voor dit in die Nkwaleni Vallei invloei.
Hy het twee seuns gehad, Qwabe en Zoeloe, wat volgens mondelingse tradisie voortdurend onder mekaar getwis het, en so het Malandela toe vir Qwabe gestuur om langs die benedeloop van die rivier, iewers naby hedendaagse Empangeni te gaan woon.
Zoeloe is noord gestuur om hom in die streek van die Wit Umfolozi Rivier te vestig. Met die verloop van tyd het beide broers hul volgelinge in afsonderlike stamme gekonsolideer en beide het aparte huldeblyke (ukukhonza) aan die Mthethwa hoof, wat die mees kragtigste in die streek was, gebring.
Teen die einde van die 18de eeu het Dingiswayo die hoof van die Mthethwa geword. As 'n jong man moes hy vir sy lewe vlug omdat sy vader vermoed het dat hy saamgesweer het om hom omver te werp.
Dingiswayo het regdeur die streek, wat vandag bekend staan as KwaZulu-Natal, gereis. Deur sy reise is sy visie verbreed en is hy aan handeldryf bekend gestel, wat stadig maar seker rondom die Portugese hawe van Delagoabaai gegroei het. Toe hy hoor van die dood van sy vader het hy op 'n perd met 'n geweer in die hand teruggekeer om die leierskap van die Mthethwa te neem.
Dingiswayo was 'n kragtige leier wat kon voorspel dat die kompetisie vir hulpbronne en land meer intens sou word, en handeldryf met die Portugese sou meer voordele bring. So het hy besef dat die opbou van sy volgelinge en die Mthethwa weermag belangrik is. Vir hierdie doel het hy stelselmatig die losweg gestruktueerde groepe wat hulde aan hom gebring het, en die wat hy in gevegte verslaan het, geabsorbeer en geamalgameer in 'n enkele kernkrag.
Translated by Wilma Koeppen