Die Onthulling van Suid-Afrika se Nasionale Landswapen

Indien Suid-Afrika ’n mens was sou die Landswapen gelykstaande gewees het aan ’n handtekening. Die Landswapen is ’n amptelike seël op wettige dokumente soos jou geboortesertifikaat. 

©Roger de la Harpe

Dit kan ook as ’n kenteken op staatsgeboue of embleem op geld gebruik word om aan te toon dat dit outentiek en eg Suid-Afrikaans is. Die Nasionale Landswapen bestaan uit verskeie simbole wat elk ’n spesifieke betekenis het en saam die storie van Suid-Afrika vertel.

Presidensiële Toespraak

Gedurende die onthulling van die nuwe Nasionale Landswapen op 27 April 2000 by Kwaggafontein, het President Thabo Mbeki die volgende toespraak gehou: “Vandag, op ons Vryheidsdag is ons ook hier bymekaar om ’n ander simbool van ons nasionale identiteit te onthul, ons nuwe Landswapen. Dit is beide Suid-Afrikaans en Afrikaan. Dit is beide Afrikaan en universeel.

Dit dien om ons verre verlede, ons huidige lewe en ons toekoms soos dit voor ons ontvou, op te roep. Dit verteenwoordig die permanente, ontwikkelende identiteit van die Suid-Afrikaanse volk. Met hierdie nuwe landswapen bring ons hulde aan ons verlede. Ons probeer om ons aanvaarding van die inheemse geloofstelsels van ons mense, deur ons respek vir die verhouding tussen mense en die natuur aan te toon.

Dit herinner aan die tye toe ons mense geglo het dat daar ’n deurdringende krag in die natuur was wat die lewende met die dooies verbind het. Dit bring hulde aan ons land en ons vasteland as die wieg van die mensdom, as die plek waar die mensdom eens begin het. ’n Sentrale beeld van ons nuwe wapen is die legendariese sekretarisvoël met sy uitgestrekte vlerke. Hierdie omvangryke beskermer is ’n voël wat slange doodmaak en sodoende ons beskerm teen diegene wat ons kwaad sou aandoen.

Bo die voël is die opkomende son, ’n lewegewende krag terwyl dit die vlug vanaf die duisternis asook die oorwinning van ontdekking, kennis en begrip van dinge wat verborge was en nou die nuwe ontluikende lewe verlig, verteenwoordig – ons nuwe nasie soos dit gebore word en ontwikkel. Onder die voël is die protea, ’n inheemse blom van ons land wat skoonheid voorstel, die estetiese harmonie van ons kulture, ons blom as ’n nasie terwyl ons in die rigting van die son groei.

Die koringare is embleme van die vrugbaarheid van ons land wat vir millennia voedsel aan ons mense voorsien het, soos dit vir ewig sal voortduur. Die Afrika-olifant se tande, wat in pare voorgestel word om mans en vrouens aan te dui, simboliseer wysheid, standvastigheid en krag. In die middel staan ’n skild wat die beskerming van ons bestaan van een geslag tot die volgende aandui.

Bo-op dit rus ’n spies en knopkierie. Saam verkondig hierdie ensemble die verdediging van vrede eerder as ’n staat van oorlog. Hierdie skild van vrede, wat ook ’n Afrika-drom voorstel, dra dus terselfdertyd die boodskap van ’n nasie wat met ’n liefde vir kultuur besiel is, die boonste deel daarvan as ’n skild wat verbeeldingryk deur die protea verteenwoordig word. Binne-in die skild is party van die vroegste voorstellings van die mens in die wêreld.

Diegene wat uitgebeeld is, die eerste inwoners van ons land - die Khoisan mense, spreek van ons verbintenis om die mensdom te vier en om die vervulling van die sake van alle mense in ons land en wêreldwyd te bevorder. Hierdie figure is afgelei van beelde op die Linton-steen, ’n wêreldbekende voorbeeld van Suid-Afrikaanse Rotskuns. Hulle word in ’n groetende houding uitgebeeld wat die transformasie van die individu na ’n sosiale wese wat aan ’n kollektiewe en interafhanklike mensdom behoort aantoon.

Die leuse van ons nuwe Landswapen, geskryf in die Khoisan taal van die /Xam-volk, beteken: Diverse mense verenig. Ons het ’n antieke taal van ons mense gekies. Hierdie is nou ’n uitgestorwe taal omdat daar niemand leef wat dit as sy of haar moedertaal praat nie. Dit beklemtoon die tragedie van die miljoene mense wat deur die eeue gesterf het en selfs die uitgestorwe volke as gevolg van mense se onmenslikheid teenoor ander.

Dit sê ook dat ons self nooit volkome kan wees as enige mense van die aangesig van die aarde gevee word nie, want elkeen van ons is ’n deeltjie van die geheel. Deur hierdie woorde, !ke e: /xarra //ke, op ons Landswapen te graveer verbind ons onsself daartoe om die lewe te waardeer, alle tale en kulture te respekteer en rassisme, seksisme, chauvinisme en volksmoord te weerstaan.

Dus belowe ons om die verpligting wat menslike evolusie aan ons opgelê het te respekteer - om die feit te respekteer dat in hierdie land wat ons saam geërf het een van die geboorte plekke van die mensdom self is. Hier in die taal van ons antieke verlede praat ons met die huidige en toekomstige geslagte oor die belangrikheid van menslike solidariteit en eenheid.

Ons sê dat in die hart van elke individu ’n innerlike noodsaaklikheid is, ’n noodsaaklike menslikheid wat elke mens, elkeen, verplig om met ’n ander te verenig. Hierdie impuls en hierdie bewuste aksie maak ons wie ons is en vertel ons waar ons as ’n Suid-Afrikaanse volk wil gaan. Die ontwerp het binne-in beelde van die eier wat die ewige voortplanting van die lewe simboliseer. Dit is hierdie voorwaartse beweging wat ons na die Afrika-eeu moet neem en die oorwinning van die Afrika Renaissance.

Ek vra julle almal wat vandag hier bymekaar is om hierdie Landswapen as jou eie te aanvaar, dit as gemeenskaplike besitting te besit, verteenwoordigend van die aspirasies van ’n wennende nasie wat bewus is van die uitdagings wat voorlê en selfvertroue het om die probleme te oorkom.

Soos ons vlag trots aan sy mas wapper en ’n intense gees van ’n inklusiewe nasionale identiteit uitlok, so moet hierdie wapen wat die buitengewone kreatiwiteit van ons mense deur die eeue uitbeeld, ons verenigde en diverse nasie inspireer om so helder soos die son te skyn.” – Thabo Mbeki

Translated by Ananda Schoeman