Mineraalaanvullings vir Bokke

© Marinda Louw

Minerale wat Bokke Benodig

Kalsium (Ca) en fosfor (P) word geberg in die skelet en bokke kan byvoeg en hiervan gebruik soos benodig. Kalsium en fosfor is essensiële komponente van been en tande en is nodig vir been en weefsel in groeiende lammers. Melk is hoog in kalsium, so hoe meer melk die ooi lewer, hoe meer kalsium het sy nodig. Lusern bevat baie kalsium of dit kan aangevul word deur ander voere. ‘n Tekort aan kalsium kan lei tot ‘n verlies aan melk en melkkoors in ooie.
Kalsium en fosfor is onderling verbind en moet aanwesig wees in rantsoene in die ratio 2:1. Fosfor is noodsaaklik vir weefselgroei en beenontwikkeling en is belangrik vir sy vermoë om energie vas te vang gedurende vertering. Grane bevat baie fosfor. Magnesium beïnvloed die optimale funksionering van die senuweestelsel en hou verband met die noodsaaklikheid van kalsium en fosfor.
Sommige minerale soos selenium en koper word slegs in baie klein hoeveelhede benodig – as spoorelemente. Koper (Cu) help vertering en selenium is noodsaaklik vir selmetabolisme. Simptome van tekorte sluit in witspiersiekte en stilgeboortes. Sink is betrokke by spermproduksie en simptome van tekorte sluit in verminderde haargroei, baie bakterieë in die mond met oorvloedige speeksel, styfheid van gewrigte en ‘n lae manlike libido. ‘n Tekort aan jodium kan gesien word in ‘n swelling van die skildklier en growwe hare.

Voeding van Vitamines en Minerale

Op aangekoopte suiwelmeel vir bokke sluit die vervaardiger gewoonlik ‘n lys vitamines en minerale in. As suiwelmeel nie gevoer word nie, mag dit nodig wees om ‘n mineraallek te gee om die vereiste mikronutriënte te voorsien. Daar is baie verskillende soorte lekke geskik vir verskillende omstandighede en seisoene. Die meeste bevat sout om inname te beperk, maar die veronderstelling is dat bokke genoeg sal inneem om hulle vitamine en minerale behoeftes te bevredig.

Translated by Elna Van Rhyn