Verken Afrika se Beste - Aktiwiteite
Madikwe Wildreservaat, Noordwes Provinsie

Madikwe, wat voorheen ernstig uitgeputte landbougrond was, is in 1991 as ’n Reservaat verklaar.

Wildkyk

Duisende diere is in die gebied ingebring deur ’n projek bekend as Operasie Phoenix. Die gevolg van die konstante bewaring en sorg maak die reservaat ’n uitstekende wildkyk gebied. Etali se watergat is vanaf die eetkamer sigbaar – ontspanne leunstoel kykgenot. Drie van die agt suites kyk ook op die watergat uit en die ander vyf kyk op die paadjies wat na die watergat lei uit. Dit beteken dat jy al kan wildkyk nog voordat jy op ’n wildrit of stapsafari gaan.

Daar is twee begeleide wildritte per dag saam met ervare wildbewaarders en spoorsnyers. Die oggendrit met die koel vars lug is die vroeg opstaan werd. Die laatmiddag wildrit gevolg deur ’n heerlike aandete, bied die moontlikheid om die nagdiere wat in die bosse skuil te sien. Vir die stadsmens is hierdie ’n onmisbare ervaring.

Stapsafari

Die opwinding om wild slegs ’n paar meter ver weg te sien en die wildbewaarders wat die dierespore, inseklewe en plante en bome uitwys maak die stapsafari ’n besonderse ervaring. Dit is ’n malariavrye area.

Beste Tyd om te Besoek

Etali Safari Lodge se kundige gidse kan enige tyd van die jaar die volop wild opspoor en hulle kennis, stories en ervarings met gaste deel. Gedurende Mei tot September is die dae koeler en droër terwyl Oktober tot April meer reënval kry en warmer is.

Bos Etes

Etali het wêreldklas sjefs wat tradisionele Afrika geregte met ’n Asiese invloed voorsit. Spesiale maaltyd versoeke soos halaal, kosjer, glutenvry of kindervriendelike kos is beskikbaar. ’n Smaaklike braai, ontbyt in die bos, ronde ysterpotte vol outydse potjiekos, aandete in die boma, ’n eksklusiewe romantiese ete vir twee, heerlike koeke en gebak – jy kan maar net jou verbeelding gebruik!

Hier is ook ’n spesiale wynkelder om die perfekte wyn saam met jou kos te geniet. Indien jy nog na al hierdie lekkernye lus raak vir vir iets tydens die wildritte is daar versnaperinge en warm sjokolade beskikbaar.

Spesiale Aktiwiteite

Die elegante Etali Safari Lodge het ’n gesondheidsspa wat gespesialiseerde behandelings vir mans, vrouens en tieners aanbied. Vir algehele ontspanning spandeer tyd in die stoomkamer of bly in oefening in die gimnasium. Die binne- en buite-storte in die suites en die waterterapie van die Spa-personeel verseker dat jy hiervandaan met die ware betekenis van Etali naamlik ’n ‘nuwe begin’ vertrek.

Tydens jou verblyf in Etali kan jy meer van die naghemel in die Suidelike Halfrond in Suid-Afrika leer. ’n Sterrekundige besoek die lodge maandeliks om vir die veldgidse opleiding te gee. As daar gaste is wat belangstel sal hy sonder om ’n fooi te vra inkom om die wonders van die hemel te verduidelik. Die Etali span kan spesiaal intieme troues en klein konferensies vir tot 20 mense ontwerp om aan elkeen se behoeftes te voldoen.