Inheemse Hoenderrasse

© Chris Daly
Inheemse hoenderrasse is dikwels gehard en beter aangepas by Suid-Afrikaanse klimaatstoestande as kommersiële rasse. Dit maak hulle meer geskik vir die vry-loop stelsel en kleinskaalse boerdery. Die bekendste rasse in Suid Afrika is die Boschveld-hoender, Kaalnek, Ovambo, Potchefstroom Koekoek en die Venda.

Boschveld-hoenders

Boschveld-hoenders word nog nie in Suid Afrika as ’n geregistreerde ras aanvaar nie, maar is nogtans die verkose ras vir die vry-loop stelsel hoenderboere in baie dele van Afrika.

Die boer, Mike Bosch, het in 1998 op sy plaas in die Limpopo provinsie die hoender ontwikkel van ’n kruising tussen die Ovambo, Venda en Matebele. Daar word beweer dat hierdie hoender die gehardheid van die Ovambo, eierproduksie van die Venda en grootte van die Matebele het.

Die hoender het ligte rooibruin vere met wit tussenin wat help om dit te kamoefleer en teen roofdiere te beskerm. Die hane weeg op 12 weke omtrent 1.6 kg en op 20 weke 2.6 kg. Die henne weeg op 12 weke 1.5 kg en op 20 weke 1.7 kg. Die voëls is seksueel volwasse op 136 dae oud. Elke hen lê omtrent 4 eiers per week.

Kaalnek Hoenders

Kaalnek hoenders word as ’n inheemse ras gesien en het ontwikkel van die Kaalnek hoenders wat vanaf Maleisië in die 17de eeu na Suid Afrika gebring is. Die voëls het ’n verskeidenheid kleurpatrone.

Volgens die Pluimvee Klub van Suid Afrika is daar twee tipes Kaalnek hoenders, die een is ’n suiwer ras en het ’n volledige kaal nek en die ander een is ’n baster wat ’n klossie vere aan die voorkant van die nek het. Die hane weeg op 16 weke 1.5 kg, op 20 weke 1.95 kg en ’n volgroeide haan weeg 3.5 kg.

Die henne weeg op 16 weke 1.1 kg, op 20 weke 1.4 kg en ’n volgroeide hen weeg 3 kg. Die voëls is seksueel volwasse op 155 dae oud. Die hen lê ’n eier met ’n gemiddelde gewig van 55.5 gram.

Die Kaalnekgeen word in party lande soos Frankryk vir kommersiële pluimvee produksie aangewend. Daar is ’n paar redes hiervoor. Hierdie hoender het 30% minder vere as ander hoenderrasse en benodig gevolglik minder voeding om dieselfde liggaamsmassa as ander hoenders te bereik. Die Kaalnek is ook meer bestand teen hitte en met slagting is daar minder vere om te verwyder.

Ovambo Hoenders

Ovambo hoenders kom van Ovamboland in noordelike Namibië. Die ras word as lêhenne gebruik. Dit is ’n donker tot swart hoender met wit of oranje strepe.

Hulle ligte gewig help hulle om te vlieg en in bome te oornag wat beskerming teen roofdiere bied. Volgens Wickedfood Earth is die voëls rats en hoogs aggressief en dit kan rotte en muise vang.

Die hane weeg op 16 weke omtrent 1.74 kg en op 20 weke 2.16 kg. Die henne weeg 1.32 kg op 16 weke oud en 1.54 kg op 20 weke oud. Die voëls is seksueel volwasse op 143 dae oud.

Die hen lê omtrent 129 eiers per jaar en die gemiddelde gewig van ’n eier is 52.5 gram. Die hen is ’n goeie ouer en haar broeisheid help met die kuiken se oorlewing.

Die Potchefstroom Koekoek

Die Potchefstroom Koekoek is in 1950 deur Chris Marais van die Potchefstroomse Landboukollege in Potchefstroom deur ’n kruising tussen die Swart Australorp, Wit Leghorn en Plymouth Rock rasse ontwikkel. Die naam "Koekoek" verwys na die ras se spesifieke kleurpatroon.

Die voëls is seksueel volwasse op 130 dae oud. Die henne lê bruin eiers met ’n gemiddelde gewig van 55.7 gram. Elke hen lê ongeveer 198 eiers per jaar. Die hane weeg op 16 weke oud omtrent 1.84 kg, op 20 weke 2.4 kg en ’n volgroeide haan weeg 3.5 tot 4.5 kg. Die henne weeg op 16 weke oud 1.4 kg, op 20 weke 1.7 kg en ’n volwasse hen weeg 3.5 kg.

Die ras is onder die plaaslike gemeenskap gewild vir die eier en vleisproduksie sowel as die feit dat die henne self die kuikens kan grootmaak. Die kleur van die voëls is geslagsgebonde. As ’n swart of rooi haan met ’n hen kruis is die henne swart en die hane het ’n wit merk op die kop.

Venda Hoenders

Venda hoenders is deur Dr. Naas Coetzee, ’n staatsveearts van Bloemfontein, in 1979 in die Venda area van die Limpopo Provinsie ontdek. Die ras is veelkleurig met wit, swart en bruin as die dominante kleure. Dit is ’n ligte hoenderras met sagte vere.

Die hane weeg op 16 weke oud 1.57 kg, 2.01 op 20 weke oud en ’n volwasse haan weeg 2.9 tot 3.6 kg. Die henne weeg op 16 weke oud omtrent 1.24 kg, op 20 weke 1.4 kg en ’n volwasse hen weeg 2.4 tot 3 kg.

Die voëls is op 143 dae oud seksueel volwasse. Die hen lê ’n liggekleurde eier wat gemiddeld 52.5 gram weeg. Elke hen lê omtrent 129 eiers per jaar.

Volgens die Suider-Afrikaanse Skoupluimvee-organisasie (Saspo) was Dr. Coetzee baie beïndruk met hierdie ras se kwaliteit eierproduksie, weerstand teen siektes, lae behoefte aan voeding en selfversorging.

Soortgelyke hoenders is in die suide van die Wes-Kaap en in die Quaqua gebied van die Vrystaat gevind.

Translated by Ananda Schoeman