Heuningkwaliteit en Produkte

© Waugsberg
Heuning is die soet, dik vloeistof wat deur heuningbye en ander insekte gemaak word van die nektar van plante en kom voor in verskeie vorms – met ‘n loperige of romerige tekstuur, amper helder of donkerbruin van kleur, met of sonder stukkies heuningkoek.
Tot so ver terug as 4 000 jaar gelede toon hiërogliewe in Egipte die lewe van die by, en al vir millennia is heuning die enigste versoeter bekend aan die mens. Belangstelling in byeboerdery het in 1792 begin nadat Francois Huber, ‘n blinde naturalis, ‘n boek geskryf het oor bye en heuning en in die 1850’s het ‘n Amerikaanse prediker, Lorenzo Langstroth, die eerste verskuifbare byekorf ontwerp, ‘n patent wat vandag nog gebruik word.

Gradering van Heuning

Huidige Suid-Afrikaanse wetgewing, die Agricultural Product Standards Act, 1990 (Act No. 119 of 1990) stipuleer twee grade – keurgraad en industriële graad – vir vloeibare heuning, geroomde heuning en heuningkoekheuning. Wetgewing beheer die kwaliteit deur die vlakke van sekere eienskappe van heuning soos byvoorbeeld die fruktose en glukose ratio, digtheid en HMF (hidroksiemetielfurfuraal aanwesig in heuning en aanduiding van die kwaliteit van heuning) inhoud vas te pen.

Die Kleur en Geur van Heuning

Die kwaliteit van heuning het niks te doen met die kleur daarvan nie. Die kleur van heuning word bepaal deur die bron van die nektar en kan van waterkleurig tot donkerbruin, amper swart wees.
Byvoorbeeld, heuning met ‘n ligte kleur kan afkomstig wees van sitrusbloeisels, terwyl donker, amberkleurige heuning afkomstig kan wees van die nektar van avokadobloeisels of wilde blomme.
Volgens die VSA-gebaseerde National Honey Board word die geur en smaak van heuning ook op dieselfde wyse bepaal. Avokadoheuning sal ‘n ryk, bottergeur hê, terwyl bloekomheuning 'n verskeidenheid smaakprofiele mag vertoon, maar dikwels ‘n sterk geur met ‘n effense medisinale smaak het. In teenstelling hiermee, het heuning van sitrusbloeisels ‘n sagte geur met ‘n effense sitrusondertoon. Bloubessieheuning het ‘n ligte amber kleur met ‘n volronde geur. Akasiaheuning is matig en baie soet met ‘n lae sukroseinhoud terwyl heuning van lusern die minste soet van alle soorte heuning is. Heuning van kanolablomme word baie vinnig sandsuiker, soms selfs in die korf.

Tipes Heuning

Rou heuning is nie verhit, geprosesseer of gepasteuriseer nie en is baie geskik vir nuweling byeboere omdat dit nie duur verhittings- en pasteuriseringstoerusting vereis nie. Dit bevat ook byestuifmeel wat hoog is in aminosure en ander voordelige bestanddele.
Rou heuning kan egter troebel raak, gis en sandsuiker (kristalliseer) word. Die produksie daarvan is ‘n stadiger proses en dit mag bakterieë bevat.
Kommersiële of gewone heuning mag gepasteuriseer wees. Pasteurisasie is die doodmaak van bakterieë deur ‘n voedselproduk te verhit tot 70°C en dan weer vinnig te verkoel. Die verhitting van heuning maak dit makliker om te filter en te bottelleer en lewer ‘n suiwerder heuning wat nie sal kristalliseer nie.
“Geroomde” heuning is fyn gekristalliseerde heuning wat geprosesseer is om ‘n eenvormige romerige digtheid met ‘n gladde, smeerbare tekstuur te lewer.
‘Cut comb’ heuning is heuningkoek met heuning wat gesny en verpak is.
‘Honeydew’ heuning verwys na enige dekstroroterende heuning. Hierdie heuning is gemaak van die suikerige afskeidings van ander plantgedeeltes as blomme, maar kan ook beteken dat die heuning verdun is (vermeng met stroop en ander suikers) want die suikermolekules in ‘nagemaakte heuning’ is anders as dié in suiwer heuning.
Mānuka heuning is gemaak van die nektar van die Mānuka bos (Leptospermum scoparium), ‘n inheemse plant in Nieu Seeland. Mānukaheuning word as superieur beskou en beskik oor spesiale antibakteriese en wond-versorigingseienskappe.

Drankies met Heuning

Heuning is soeter as suiker en kan gebruik word as ‘n plaasvervanger vir suiker in mengeldrankies, ystee, warm drankies en vrugtedrankies. Heuning moet met water gemeng word deur dieselfde maat heuning as water te gebruik. Verhit die mengsel effens totdat die heuning in die water smelt. Die mengsel kan vir ongeveer twee weke gebêre word.
Die Skotse drankie Drambuie is ‘n likeur wat van whiskey, heuning, kruie en speserye gemaak word, terwyl heuningbier ‘n gegiste mengsel van heuning, gis en water is. Die oorsprong van heuningbier kan teruggespoor word tot by Chinese pottebakkersware van voor 7000 V.C. Kruie- en speserygegeurde heuningbier word verbind met die genesing van depressie en die verbetering van spysvertering.

Wat is Nagemaakte Heuning?

In 2018 is daar ontdek dat nagemaakte heuning in Suid-Afrika verkoop word. Die nagemaakte heuning kon plaaslik vervaardig gewees het, hoewel die meeste heuning in Suid-Afrika van China af ingevoer word.
Plaaslike produsent, Peel’s Honey, verduidelik dat nagemaakte heuning gemaak word deur regte heuning te vermeng met mieliestroop, rietsuiker of ryssuiker. Hierdie proses word ‘verdunning’ genoem. Die byvoeging van suikerstrope of selfs water by regte heuning laat produsente toe om nagemaakte heuning teen laer pryse as suiwer heuning te verkoop. (‘Suiwer/egte’ heuning het teen ongeveer R65/500g in 2018 verhandel).
Die besware teen nagemaakte heuning is tweërlei: gesondheid en ekonomies.
Nagemaakte heuning met bygevoegte suiker kan ‘n negatiewe impak op die gesondheid (en bloedsuikervlakke) van verbruikers hê, veral diabete. Tweedens maak die laer prys van nagemaakte heuning dit moeilik vir plaaslike byeboere om mee te ding.

Verbruikers word aangeraai om etikette deeglik te bestudeer. Om plaaslik geproduseerde Suid-Afrikaanse heuning te koop, moet daar staan ‘produced in South Africa’ teenoor ‘packaged in South Africa.

‘n Eenvoudige toets om tuis te doen: meng gelyke dele heuning en brandspiritus. Suiwer/egte heuning sal op die bodem gaan lê terwyl nagemaakte heuning met die brandspiritus sal meng.

Translated by Elna Van Rhyn