Druiwe Peste - Margarodes

© Dr Andre de Klerk Wineland
Margarode infestation can be recognised by curling leaves.

Hierdie insek is ‘n tipe dopluis wat ondergronds op die wortels voorkom en voed op wingerdwortels gewoonlik so 40 tot 60 cm diep. Die insek, wat ook as ‘grondpêrels’ bekend staan, kan veral vanaf Desember tot Mei in die grond opgemerk word en word deur grondbewerkings-implemente en water versprei.

Die eerste simptome van ’n margarode-besmetting is swak groei, wat gewoonlik in kolle in die wingerdblok voorkom. Lote word korter en dunner met kleiner blare wat na onder krul. Daar is egter geen tipiese simptoom van margarode besmetting nie.

©Dr Andre de Klerk Wineland
Size difference of encysted larvae of two margarode species

Tien soorte kom in Suid-Afrika voor, maar net vyf soorte margarodes rig ekonomiese skade aan wingerd aan. Dit val ’n groot reeks plante, veral grasse, aan. Met die ontwikkeling van veral nuwe gronde is dit belangrik om te weet watter gewasse as natuurlike gasheerplante van die verskillende soorte dien.

So kan ’n moontlike natuurlike besmetting voor plant bepaal en bestuur word. Die kameeldoringboom (Acacia erioloba), wat wydverspreid in die Oranjerivier-besproeiingsgebied en Mpumalanga voorkom, is onlangs geïdentifiseer as die natuurlike gasheerplant van een van die margarode spesies.

Die natuurlike gasheerplante van die ander Suid-Afrikaanse soorte is nog onbekend. Geen geregistreerde chemiese beheer van margarodes is tans beskikbaar nie maar daar word aanbeveel dat trekkerbande en ander werktuie skoongespuit moet word wanneer dit van besmette blokke na onbesmette blokke beweeg.

Translated By Marinda Louw