Bye en Die Bestuiwingsbehoeftes van Gewasse

©Luc Viatour
Afgesien daarvan dat byeboere hul korwe moet registreer, is daar sekere vereistes wat hulle moet nakom in terme van bestuiwingsdienste aan voedselgewasse. Landbounavorsingsraad navorser Mike Allsopp beveel die volgende bestuiwingsriglyne aan vir byeboere wat die diens wil lewer:
Daar moet ‘n koningin wees in kolonies wat vir bestuiwing gebruik word. Korwe moet ten minste agt broeirame bevat wat bedek is met bye en vier broeirame met die broeisel in verskillende stadiums.
Kolonies moet in groepe geplaas word, verkieslik in ‘n sirkel om te verhoed dat bye van een korf na ‘n ander verhuis. Een plasing moet nie meer as 400m van die volgende wees nie. Indien dit nie moontlik is nie, moet korwe aan die rand van die boord of land geplaas word. As kolonies in ‘n ry geplaas word is dit die beste om hulle soveel moontlik uit te sprei en elke tweede ingang 180° te draai.
Korwe moet op lae staanders soos bakstene geplaas word om hulle teen klammigheid uit die grond te beskerm. In areas waar daar ratel slange is moet hulle ten minste 1m hoog geplaas word. Kolonies moet ook teen miere beskerm word.
As daar kompeterende byeplante in of naby die boord is soos bloekom, sitrus, lusern, akasias ens. moet die aantal kolonies vermeerder word.
Maak seker dat daar vars water beskikbaar is dwarsdeur die jaar. Dis noodsaaklik vir die instandhouding van die humiditeit en temperatuur in die korf vir die grootmaak van die broeisel.
Vir die meeste gewasse kan kolonies na die boord of land gebring word sodra 10% van alle blomme oop is. Kommersiële bestuiwing kan redelik ingewikkeld wees en vereis navorsing en ondervinding. Plaaslike byeboerverenigings mag instaat wees om waardevolle hulp en aanbevelings te verskaf.

Bestuiwing van Voedselgewasse

©Kathy Keatley Garvey
In Suid-Afrika word stuifmeelnavorsing deur die Landbounavorsingsraad gedoen en hulle bied die volgende aanbevelings aan rakende bestuiwing van voedselgewasse:
Amandels
Word hoofsaaklik in die Wes-Kaap geplant. Die boom blom vir 21 dae. Plaas 5-8 korwe/ha wanneer bome 50% in blom is. Amandelblomme is die ontvanklikste op die tweede dag wat hulle oop is.
Appels
Word hoofsaaklik in die Wes-Kaap geplant. Individuele bome blom vir 10 tot 25 dae. Vir goeie bestuiwing word 2-5 korwe/ha aanbeveel. Goeie dekking deur bye is as daar op enige gegewe tydstip 3 of meer bye per boom getel kan word.
Avokados
Avokados word nie deur die wind bestuif nie en vereis aktiewe oordrag van stuifmeel deur insekte waarvan bye verreweg die beste is. Daar is gevind dat bye weggelok kan word deur kompeterende byplante soos blackjacks, laat-blommende saligna gums (‘n soort bloekomboom) en vroeg-blommende sitrus. Effektiewe bestuiwing van avokados vereis 2-4 korwe/ha en ongeveer 5 bye (getel tussen 10:00 en 16:00) per 1m² van die blommende boom.
Bloubessies
Met ‘n groot toename in bloubessie aanplantings wat verwag word vanaf 2018 tot 2023, sal bestuiwingsdienste in groot aanvraag wees. Die verwagte groei in aanplantings is van 1500 ha tot 6 000 ha. Bloubessies blom lank; dus is dit ‘n goeie idee om elke twee tot drie weke vars bye in te bring. Plaas 10 -14 kolonies.
Kanola
Kanola word hoofsaaklik vir olie geplant (Suid-Wes-Kaap) en op klein skaal vir saadproduksie (Vrystaat en Noord-Kaap). Die kwaliteit en kwantiteit van sade word grootliks verbeter deur heuningbybestuiwing. Kanola blom vir 5-7 weke. Twee tot 6 korwe/ha word aanbeveel. Heuning moet so gou moontlik verwyder word omdat kanolaheuning gou kristalliseer in die korf.
Litchis
Litchibome word geplant in die subtropiese dele van Suid-Afrika en blom vir tot 21 dae. Bestuiwing deur bye is noodsaaklik vir litchivrugte om te vestig en 2-4 korwe word in ‘n boord geplaas. Koloniesterkte neem toe gedurende die bestuiwingstydperk en swerms mag meer verdedigend word – plaas korwe weg van boordwerkers.
Makadamianeute
Makadamias is die vinnigste groeiende boomgewasbedryf in Suid-Afrika en daarom baie goeie nuus vir byeboere wat daarvoor bestuiwingsdienste wil verskaf. Makadamias blom vir lang tydperke, so dis ‘n goeie idee om elke 2-3 weke vars kolonies in te bring. Plaas 5-8 korwe /ha.
Mango’s
‘n Belangrike subtropiese gewas in Suid-Afrika. Mango’s blom vir 28 dae. Die bestuiwingsaanbeveling is 3-15 korwe /ha. Koloniesterkte neem af gedurende die bestuiwingsperiode, daarom is sterk en gesonde swerms nodig.
Uie
Vir uie om saad te produseer is bestuiwing deur bye nodig. Vyf tot 12 korwe/ha word aanbeveel. Met uie kan bye kwesbaar wees vir die gestreepte byevanger (dikwels gevind in sanderige gebiede) en die kaliuminhoud van uienektar.
Pruime
Geplant in die Wes-Kaap, blom pruimbome tussen 8 en 14 dae, maar die blom is ontvanklik vir 1-2 dae. Dit word aanbeveel dat 2-6 korwe/ha gebruik word en die korwe geskuif word wanneer die bome gespuit word met plaagdoders.

Translated by Elna Van Rhyn